Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Werksessie voed versorgers op

Mense met gestremdhede het dalk ander behoeftes as ander, maar dit beteken nie hulle kan nie ’n vol lewe lei nie.

Dít was die boodskap wat onlangs bespreek is by ’n werksessie vir versorgers wat Woensdag 11 Maart deur die West Coast Disability Forum (WCDF) en sy vennote die Western Cape Forum for Intellectual Disabilities (WCFID), Saldanha-kliniek en Siyabonga Care Village aangebied is.

Die groepe het onder meer oor die kommunikasie met mense met intellektuele gestremdhede, gesinsbeplanning en seksualiteit gepraat. Pas kommunikasiemetodes aan waar nodig

Aimee Isaacs, die programbestuurder by WCFID, het die verskillende vlakke van intellektuele gestremdheid be­spreek, asook hoe om met gestremde mense te kommunikeer. Sy het vertel hoe versorgers die gestremde se omge­wing kan aanpas om “uitdagende gedrag” te verminder.

Volgens Isaacs is daar drie verskil­lende vlakke van gestremdheid: Mense wat met ondersteuning kan werk en verantwoordelikheid kan neem vir hul persoonlike higiëne; matig gestremde mense wat ’n groter behoefte aan hulp het en laastens mense met veeleisende gestremdhede wat gewoonlik hulp nodig het met omtrent alles.

“Hoe ons met gestremde mense kommunikeer, word beïnvloed deur hul sintuiglike gestremdhede,” verduidelik Isaacs.

“Sommige mense verstaan en gebruik kort sinne om te kommunikeer en ander verkies om hulle deur middel van prentjies uit te druk. Ons reageer op ’n toepaslike manier om hul behoeftes te vervul.

“Intellektueel gestremde mense sukkel dikwels om hulself in hul omgewing te reguleer. Dis vir hulle moeilik om afleibare en angswekkende faktore in hul omgewing uit te skakel. Indien iemand langs hulle in die klas aanhoudend met die vingers op die lessenaar tik, of as dit buite die venster raserig is, word hulle oorgestimuleer en oorweldig.”

Isaacs sê hierdie oorstimulasie kan tot frustrasie lei wat woede-uitbarstings kan veroorsaak.

“Om hiérdie uitdagende gedrag die hoof te bied, kyk ons na die faktore wat bydra tot die betrokkene se frustrasie en maak dan toepaslike veranderinge. Ons sal so iemand byvoorbeeld weg van die venster na ’n stiller sitplek skuif.” Skep ’n roetine

Sy het verduidelik dit is ook belangrik om ’n roetine vir mense met gestremdhede vas te stel. ’n Voorspel­bare omgewing help om die gestremde se emosies te beheer.

“Dit is absoluut onontbeerlik vir ouers om in samewerking met die dagsorgsentrum op te tree en andersom,” meen sy.

Etenstye, asook oënskynlike onbenullighede soos om dieselfde woordeskat te gebruik as wat by die dagsorg of ouerhuis gebruik word, help ook om gestremdes meer gemaklik te maak.

Indien partye nie saamwerk nie, gaan al die moeite en werk wat op die begunstigde bestee is, verlore. Mense met gestremdhede en hul seksualiteit

Willdene van den Heever, ’n maatskaplike werker by Huis Hadassa, het die diskoers rakende seksualiteit bespreek.

“Ek wou versorgers gemaklik laat voel om oor seksualiteit te praat. My invalshoek was om die onderwerp met respek te hanteer,” verduidelik sy.

Om seksualiteit aan mense met gestremdhede te verduidelik, is ’n delikate proses: “Ons begin deur hulle te leer om hul liggame te verstaan, om hulle in te lig oor watter gevoelens normaal is en hulle te leer om hulself lief te hê,” verduidelik Van den Heever.

Dit is ook belangrik vir versorgers om inligting aan gestremde mense oor MIV/vigs oor te dra en om hul reg tot “positiewe boodskappe oor seksuele verhoudings binne morele grense” te respekteer.

Die werksessie het seksualiteit op ’n praktiese wyse benader.

Versorgers is opgelei om vir mense met gestremdes te leer hoe om “ja, nee, en stop” te sê.

In een oefening, met behulp van visuele plakkate, is versorgers gewys hoe om vir begunstigdes die verskil tussen ’n onskuldige aanraking en ’n seksuele aanraking te herken.

Personeel het ook aan ander oefeninge deelgeneem in ’n poging om met gemak oor seksualiteit te praat.

“Ons het ’n plakkaat gebruik waar personeellede ‘Suzy’ se liggaamsdele moes teken. Daarna het hulle vir haar klere aangetrek,” vertel Van den Heever.

Sulke oefeninge is bydraend tot die voorkoming van seksuele misbruik, sê Van den Heever. Sy meen wanneer die diskoers rakende seksualiteit normaliseer, is dit makliker vir gestremde mense om misbruik aan te meld.

“Hulle verstaan dan dat dit hul reg is om nee te sê en dat hulle nie skaam daaroor hoef te wees nie,” verduidelik sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.