Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Weskus-vleilande onder die loep

Die Weskus is die tuiste van sommige van die Wes-Kaap se belangrikste vleilande.

Weslander fokus vandeesweek in die gees van Wêreld-vleilanddag, wat jaarliks op 2 Februarie gevier word, op ’n paar internasionaal erkende vleilande van die Weskus en faktore wat hierdie pragtige en ekologies sensitiewe watermassas negatief kan beïnvloed.

Langebaan-Ramsarterrein en Weskus Nasionale Park

Die Langebaan-Ramsarterrein is ongeveer 100 km noordwes van Kaapstad geleë en sluit die eilande Schaapen, Marcus, Malgas en Jutten en ’n deel van die Atlantiese kuslyn sowel as die Langebaan-strandmeer in. Die strandmeer is 15 km lank en op plekke tot 12,5 km breed.

Wanneer ’n vleiland die Ramsar-lys haal, word dit as ’n belangrike waterliggaam erken. Dit vorm dan deel van ’n verdrag wat nasionale optrede en internasionale samewerking vir die bewaring en verstandige gebruik van vleilande en gepaardgaande hulpbronne bevorder.

Die Langebaan-strandmeer ondersteun digte bevolkings week- en skaaldiere asook 71 spesies verskillende mariene-alge. Die strandmeer dien ook as broeiplek vir verskillende visspesies.

Dié gebied is in die somer die tuiste vir tot 55 000 watervoëls, waarvan 23 spesies waadvoëls, ook bekend as steltlopers, is.

Sowat 400 swarttobies (Haematopus moguini) wat 12% van die wêreldbe­volking uitmaak, kom in die Langebaan-omgewing voor.

Die grootste deel van die Langebaan-Ramsarterrein val binne die bewarings- en regsgebied van die Weskus Nasionale Park, waar ’n rykdom fauna en flora eie aan die streek voorkom.

Bedreigings

Nywerheidsontwikkeling, mynaktiwi­teite, beplande grootskaalse akwakultuur en visplaasontwikkeling is ’n moontlike bedreiging vir hierdie ongelooflike natuurlike erfenisgebied.

Die Saldanhabaai-watergehalteforumtrust (SBWQFT) samel al van 1999 af inligting in met betrekking tot die watergehalte van die Langebaan-strandmeer asook Saldanhabaai en die invloed wat nywerheidsbedrywighede het.

Volgens die SBWQFT se nuutste jaarlikse watergehalteverslag, wat in Oktober 2019 uitgereik is, ervaar die baai oorwinnings wat omgewingsbeskerming betref, maar dit beleef ook uitdagings.

Weslander het op 31 Oktober 2019 berig dat die algehele groen-gradering wat aan die baai toegeken is, beteken dat die toestand van die baai goed is.

“Hierdie gradering word omskryf as ’n toestand waar verandering van die natuurlike omgewing tot ’n mindere mate wel voorkom. Dit beteken daar is ook ’n klein tot middelmatige verlies aan biodiversiteit en ekosisteem-integriteit. Daar is wel menslike versteuring, maar die ekostelsels is in ’n goeie toestand. Die beste gradering is blou. Dit beteken die natuurlike omgewing is byna onversteurd wat menslike aktiwiteite en -ontwikkeling betref.”

Volgens die SBWQFT se nuutste maandelikse bakteriese besoedelingmoniteringsuitslae wat Donderdag 16 Januarie bekend gemaak is, het bakteriële aktiwiteit deur die hele opvanggebied gewissel, met die grootste aktiwiteit om die suidelike opvanggebied van Hoedjiesbaai tot by die Bokrivier en op ’n tydstip in die strandmeer by Kraalbaai-suid, wat ’n bron van kommer is.

Bykomende bronne: Ramsar.org en Weslander-argief

Verlorenvlei-Ramsarterrein

Die Verlorenvlei is 30 km lank en strek van Redelinghuys tot by Elandsbaai waar dit in die see uitmond. Die destydse goewerneur Simon van der Stel het in 1685 na die vlei as Zeekoe Valleij verwys. Daarna is dit die Zandrivier genoem en in 1924 is dit na Verlorenvlei herdoop.

Die vlei word wel deur riviere gevoed, maar kry sy water hoofsaaklik deur sy eie grondwater.

Die Ramsar-grens volg die water in die vleiland. Dit is ongeveer 1 500 hektaar en is op 28 Junie 1991 tot Ramsar-terrein verklaar. Geen gemotoriseerde aktiwiteite word op Verlorenvlei toegelaat nie. Die vlak water en baie riete beperk ook die grootte van seil- en roeibote wat op die vlei gebruik kan word.

Die grootste aantrekkingskrag van Verlorenvlei is die ryk voëllewe. Tot 190 verskillende spesies is hier aangeteken. Dit sluit 75 watervoëlspesies in. Daar is gereeld meer as 5 000 voëls in die vleilandgebied, en meer as 20 000 voëls is al hier aangeteken. Verlorenvlei is ’n spesiale voedingsbron vir die grootwitpelikaan.

Bedreigings

’n Ontwikkelaar poog al langer as 10 jaar om mynregte naby Verlorenvlei vir die ontginning van wolfram-erts te bekom.

Volgens ’n 2019-persverklaring, wat deur die Moutonshoek-beskerming-omgewingskoalisie uitgereik is, staan die Verlorenvlei-riviermonding ??weer eens voor ’n mynboubedreiging in sy primêre opvanggebied, die Moutonshoekvallei.

“Hierdie pragtige, afgesonderde vallei is verantwoordelik vir die grootste deel water vir Verlorenvlei se opvanggebied,” lui ’n deel uit die verklaring.

Volgens dié skrywe is die voorgestelde myn ’n bedreiging vir landbou en die beskermde omgewing.

Benewens verdere kommer oor bedreigde plantspesies, is die koalisie besorgd oor die Verlorenvlei se endemiese en bedreigde visspesies wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie.

“Die voorgestelde myn kan tot die ineenstorting van hierdie brose varswater-ekosisteem lei,” word in die verklaring verduidelik.

Bykomende bronne: Ramsar.org, Weslander-argief

Bergrivier-estuarium

Die Bergriviermond of Bergrivier-estuarium is nog nie ’n Ramsar-gebied nie, maar behoort eersdaags met hierdie gesogte titel beloon te word.

Die aansoek om die Bergriviermond as ’n Ramsar-gebied te verklaar, is volgens CapeNature reeds in 2017 ingedien.

Die Bergrivier-vloedvlakte word wat omgewingsbeskerming betref as een van Suid-Afrika se top-3-riviermondings beskou. Dit is een van slegs vier meerjarige riviermondings aan hierdie droë kus, en ondersteun 210 voëlspesies, waarvan 25 spesies van nasionale belang is. Sowat 80% van die vis in die riviermonding gebruik dit as broeiplek.

Die proses om as ’n Ramsar-gebied erken te word, is tydsaam en volgens die Bergrivier-munisipaliteit is uitsluitsel oor die Bergrivier-estuarium se aansoek nog nie ontvang nie.

Bedreigings

Nywerheidsontwikkeling, onwettige storting, onverantwoordelike toerisme en die onverantwoordelike gebruik van bote op die Bergrivier, is net ’n paar van die faktore wat hierdie toekomstige Ramsar-gebied bedreig.

Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) het reeds verlede winter nuwe munisipale verordeninge ingestel om die kosbare riviermond meer doeltreffend te polisieer en dit sodoende vir die nageslag te help bewaar.

Die BM se verordeninge met betrekking tot die verantwoordelike bestuur van die Bergrivier-estuarium is deel van die groter Bergriviermonding-bestuursplan van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelings­beplanning.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.