Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
WhatsApp-mense hou Saldanha se strande skoon

Die mense van die WhatsApp-groep wat gestig is om Saldanha se strande skoon en veilig te hou, is besig om die vrugte daarvan te pluk.

Volgens ’n persverklaring van die Saldanha Bay Water Quality Forum Trust (SBWQFT) is die WhatsApp-groep genaamd The Clean Saldanha Beach WhatsApp Group geskep om “alle rolspelers onmiddellik bewus te maak van besoedeling en puin op die strande in Saldanha”.

Die SBWQFT samel al van 1999 af inligting in met betrekking tot die watergehalte van Saldanhabaai en die invloed van nywerheidsbedrywighede daarop. Groot nywerhede, die belangrikste bydraers tot besoedeling in die baai, finansier SBWQFT se navorsingswerk.

“Die WhatsApp-groep werk goed en die aksies wat geneem word, is baie pro-aktief,” lui SBWQFT se verklaring.

Te danke aan goeie kommunikasie via dié WhatsApp-groep en vinnige optrede deur rolspelers, is die rommelvangnet op die strand by die stormwaterpyp net duskant die Hoedjiesbaai-hotel teen 2 Oktober blitsvinnig vervang. ’n Swaar reënbui aan die einde van September het tot opeenhoping van rommel in die net gelei. Dit is nie betyds skoongemaak nie en het oopgeskeur.

André Truter, munisipale raadslid van wyk 5 in Saldanha, het bevestig gure weersomstandighede het daartoe gelei dat die rommelvangnet oopgeskeur het en dit is nie deur vandale beskadig nie.

Die rommelvangnetprojek is verlede jaar deur Sea Harvest in samewerking met die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) van stapel gestuur. “Hierdie projek is nie net tot die voordeel van toerisme nie, maar ook tot die voordeel van plaaslike inwoners wat op hul beurt weer ’n skoon en veilige strand hier kan geniet,” het Truter gesê.

Volgens Truter het die rommelvangnetprojek, sedert dit omtrent ’n jaar gelede in werking getree het, reeds groot sukses behaal om besoedeling op Hoedjiesbaai se strand te voorkom. Sea Harvest se bedryfsdirekteur het te danke aan die WhatsApp-groep van die stukkende rommelvangnet te hore gekom en dit dadelik herstel.

Truter het nou voorgestel dat ’n memorandum van verstandhouding met betrekking tot soortgelyke toekomstige gevalle tussen Sea Harvest, die buurtwag, polisie, wetstoepassing en ander rolspelers opgestel word.

Hy het ook voorgestel dat ’n versperring tussen die uitlaat en die net aangebring word. Sunrise Energy het intussen aangebied om ’n skanskorf (mandjie van metaal wat met klippe volgemaak word en gewoonlik gebruik word om grond te verstewig) vir hierdie doel te skenk.

Foto’s van twee dooie robbe wat op die WhatsApp-groep geplaas is, het ook tot die vinnige optrede van die munisipaliteit gelei om die rob-karkasse te verwyder en te begrawe.

“Die SBWQFT wil die Saldanhabaai-munisipaliteit bedank vir die vinnige optrede om die strand skoon te maak van potensieel gevaarlike bakterieë weens die verrottende robkarkasse, asook die stigters en administrateurs van die WhatsApp-groep gelukwens met hierdie wonderlike, effektiewe idee om owerhede en skoonmaakspanne te waarsku oor besoedelingsvoorvalle op die Saldanha-strande.”

Die SBWQFT se voorlegging van sy jaarlikse watergehalteverslag vir Saldanhabaai gaan vanjaar weens Covid-19 as ’n web-seminaar op 22 Oktober om 18:00 plaasvind.

Besoek sbwqft.org.za vir nog inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.