Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wrede aanval

’n Paartjie van ’n plaas buite Porterville sê hulle het ’n paar dae voor hulle wreedaardig aangeval is, ’n man op die damwal gesien wat die huis dophou.

Volgens plaaslike polisiewoord­voerder, kapt. Tania Helfrich, is Tobie van Schalkwyk (50) en sy vrou Desireé (45) Sondagaand ná 21:00 deur drie onbekende mans op die plaas De Tuin aangeval.

Tobie het Dinsdag aan Weslander vertel sy vrou is ook deur een van die mans seksueel aangerand.

Tobie is die bedryfsbestuur­der van die plaas.

Dit kom net ’n paar weke ná drie mans toegang tot die paartjie se huis probeer kry het, deur die voordeur met ’n koevoet oop te breek. Desireé en die huiswerker was in die woning toe dit gebeur het, en het in die gang gaan wegkruip.

Toe Tobie met sy bakkie daar aankom, het die mans gevlug. ’n Paar dae hierna het iemand met rooi spuitverf die woorde kill the boer, viva juju en viva EFF op die voordeur gespuit.

Tobie vertel die dreigboodskap het hom en Desireé baie bang gemaak. Die paartjie het sedertdien in vrees geleef en selfs hul slaapkamer vir veiligheid na die boonste verdieping van die huis geskuif.

Tobie sê ook die polisie het die gebied gereeld in die weke ná die spuitverf-voorval gepatrolleer. Tog het boosdoeners steeds daarin geslaag om die paartjie Sondag aan te val.

Volgens Tobie was hy die aand van die aanval besig om papier­werk op datum te bring. Hy het ’n lêer benodig en besluit om dit in sy kantoor te gaan haal wat ’n entjie daarvandaan, anderkant die plaasdam geleë is.

Tobie glo die drie verdagtes het vinnig by die erf ingeglip toe die elektriese hek oopgegaan het en hy na sy kantoor gery het.

Met die terugkomslag het Tobie by die huis stilgehou en uitgeklim. Hy is van agteraf oorrompel, geskop en in die gesig geslaan.

Die drie aanvallers het klapmusse en handskoene aangehad. Een het Tobie se kop teen die grond vasgedruk en gedreig dat hy hom sal doodmaak. “Die man het petrol op my uitgegooi en gesê, you f****** white boer, we will kill you, we will burn you!,” vertel Tobie.

Die mans het vuurwapens geëis, maar Tobie het aan hulle verduidelik daar is nie wapens in die huis nie.

Intussen het Desireé van die oproerigheid buite die huis bewus geraak en die deur oopgemaak, waarna een van die mans haar bestorm, oorrompel en begin slaan het. Hy het haar bene probeer oop dwing terwyl die derde man haar arms agter haar lyf vasgehou het.

Tobie vertel Desireé het baie hard teen haar aanvallers terug baklei.

Die man wat Tobie se kop teen die grond vasgehou het, het aan hom gesê hy moet kyk hoe sy vrou verkrag word.

“Ek het gedink dis die einde. Hulle gaan ons doodmaak,” vertel hy.

Die oomblik toe die man wat hom vashou se aandag afgetrek word, het die plaasbestuurder na sy voertuigsleutel gegryp en die alarm geaktiveer.

Die aanvallers het dadelik gevlug. Tobie het onmiddellik hulp ontbied, wat blitsig op die toneel was. Die paartjie is dieselfde nag sak en pak na ’n gastehuis weg.

“Ek sal my werk behou, maar ons sal nooit weer op die plaas gaan bly nie,” het hy aan Weslander gesê.

Die lyf en gesig van Tobie en Desireé onderskeidelik, is vol bloukolle en kneusplekke. Desireé se aanvallers kon nie daarin slaag om haar te verkrag nie, maar sy is wel seksueel aangerand. Tobie sê hy het baie seergekry toe hy op die grond neergegooi is en beleef tans erge pyn. Sondagnag ná die aanval is die paartjie medies versorg en forensiese monsters is by Desireé geneem, aangesien sy dalk een van die aanvallers se vel onder haar naels met die stoeiery gekry het.

Lees verder op bl. 2.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.