Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wynoes: Groot uitdagings

Wyndruifprodusente en kelders in Suid-Afrika is positief oor die gehalte van wyne uit die 2018-oes, ondanks uitdagende toestande wat tot een van die kleinste oeste in meer as ’n dekade gelei het.

Volgens die wynbedryfliggaam Vinpro is die 2018-oes, wat op 1 220 920 ton sowat 15% kleiner is as in 2017, aanvanklik selfs laer geskat.

“Die 2018-seisoen was werklik uitdagend weens een van die ergste droogtes in 100 jaar, tesame met waterbeperkings en rypskade in sekere gebiede,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.

Alle streke behalwe die Breedekloof het ’n kleiner wyndruifoes aangeteken.

Sommige wingerde het in September en Oktober 2017 ook rypskade ondervind.

Suid-Afrika is die agste grootste wyndruifprodusent ter wêreld en produseer nagenoeg 4% van die wêreld se wyn.

Die wynbedryf dra glo R36 miljard by tot die land se bruto binnelandse produk en verskaf boonop werk aan nagenoeg 290 000 mense.

Totale oesgrootte:

Die 2018-wyndruifoes, volgens SA Wynbedryf­inligting- en Stelsels, word aan die einde van April 2018 op 1 220 920 ton geraam. Dit is 15% laer as in 2017.

Die 2018-wynoes – sap en konsentraat vir niealkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit – sal na raming 948,3 miljoen liter beloop.

2017-’18-groeiseisoen:

In die na-oesperiode (April en Mei 2017) het heelparty streke se wingerde hul blare langer as gewoonlik behou, wat voordelig was vir die opbou van reserwes vir die komende seisoen.

Olifantsrivier, Breedekloof, Paarl en Swartland het minder as die helfte van hul langtermyn- gemiddelde reënval aangeteken en die Klein Karoo slegs 20%.

Wynpotensiaal:

“Verbruikers kan uitsien na ’n paar baie goeie wyne uit die 2018-oes,” sê Viljoen.

Die droë, warm weer het ge­sonde druiwe en klein korrels met goeie intensiteit tot gevolg gehad.

Groter variasie tussen nag- en dagtemperature gedurende die rypwordingstydperk het kleur- en geurvorming ’n verdere hupstoot gegee – ’n teken van uitsonderlike gehalte wyne.

Oorsig van die streke:

Breedekloof: Baie gesonde toestande en die feit dat nuwe colombar- en pinotage-aanplantings begin dra het, het tot ’n groter wyndruifoes bygedra.

Klein Karoo: Hoewel ’n kleiner oes gerealiseer is, sal die rooiwyne ’n dieper kleur hê danksy kleiner korrels, en die witwyne het vars eienskappe.

Noord-Kaap: Chenin Blanc-produksie het ietwat verhoog, maar colombar, die grootste bydraende kultivar in die streek, is die meeste deur rypskade in sekere gebiede geraak.

Olifantsrivier: Die streek is die ergste deur watertekorte getref en ervaar die grootste oesafname.

Paarl: Die aantal wyndruiftrosse is deur heelwat kleiner korrels getroef, wat tot ’n laer opbrengs gelei het, spesifiek in droëlandwingerde.

Robertson: ’n Kleiner, maar baie belowende wyndruifoes ondanks rypskade in sekere gebiede.

Stellenbosch: Ondanks besproeiingsuitdagings en ’n kleiner oes, verwag wyndruif­produsente en wynmakers wonderlike wyne.

Swartland: ’n Onverwags goeie jaar wat betref wyngehalte, ondanks ’n kleiner oes weens waterstremming in hierdie droëlandstreek.

Worcester: Een van die mees uitdagende seisoene nóg weens waterbeperkings en ryp, maar wyndruifprodusente en wynmakers was innoverend in die wingerd en kelder om goeie wyne te produseer.

Besoek www.vinpro.co.za vir die volledige oesverslag per streek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.