Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Beurtkrag wurg ook vir Jan Taks

Beurtkrag het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) al miljarde aan verlore inkomste gekos, reken die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica).

Volgens Netwerk24 se eie somme – wat verskil van Saica s’n omdat Saica oënskynlik van die veronderstelling uitgaan dat alle persoonlike inkomste ook wegval in die geval van beurtkrag – is Jan Taks vanjaar tot R5 miljard armer weens beurtkrag. Dit is as die potensiële maksimum verlies aan maatskappye se inkomstebelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW) weens verkope wat wegval, opgetel word. Die energiekenner Chris Yelland het in Februarie geraam dat beurtkrag die ekonomie R1 miljard per fase per dag kos. Volgens dié raming – en daar is selfs meer pessimistiese ramings – het beurtkrag die land vanjaar al tot R44 miljard gekos.

Die beurtkragskedules is egter soms in die middel van die dag op- of afgeskaal, wat beteken enige raming is bloot dít – ’n raming. In die boekjaar tot einde Maart het die SAID R324,6 miljard se BTW ingevorder en R214,5 miljard se maatskappybelasting. Die BBP vir 2018 was R4 900 miljard. Dit beteken BTW en maatskappybelasting beloop nagenoeg 11% van die BBP. Indien ’n mens die ergste moontlik scenario aanvaar, naamlik dat alle BTW en maatskappybelasting weens beurtkrag wegval, beteken dit 11% van R44 miljard, oftewel R4,84 miljard, se belastinginkomste het vir die land verlore gegaan. (Dis ietwat oordrewe omdat mense tog van hul aankope inhaal wanneer die krag weer aangaan.) Dit kan meer wees omdat daar wel mense is wat weens beurtkrag minder verdien en dus minder belasting betaal. Daarby kan beurtkrag maatskappye dermate onder druk plaas dat hulle mense moet aflê, wat op sigself die SAID se inkomste aan persoonlike inkomstebelasting sal knou.

Volgens die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr moet werkgewers steeds hul werknemers betaal as hulle met beurtkrag vir werk opdaag. Ingevolge die Wet op Basiese Diensvoorwaardes geld die reël van geen werk geen betaling, wat byvoorbeeld met stakings van krag is, nié indien dit nie die werkgewer of werknemer se fout is dat werk nie gedoen kan word nie. Die enigste uitsondering is indien werknemers ingestem het tot ’n alternatiewe reëling, soos dat hul ure verkort of verander word om beurtkrag in ag te neem. Sommige motor- en klerefabrieke het dié reëling vantevore met werknemers onderhandel. Dit mag nie eensydig aan werknemers opgedwing word nie, waarsku Cliffe Dekker Hofmeyr. Saica kom uit by die bedrag van tot R11 miljard wat die SAID verloor het weens beurtkrag. Madelein Grobler, Saica se projekdirekteur vir belasting, sê die SAID het op 1 April aangekondig hy het vir die boekjaar tot 31 Maart R14,6 miljard te min belasting ingevorder vergeleke met sy begroting. “Dit laat die vraag ontstaan of die R11 miljard dalk kon bydra tot die huidige tekort, of die tesourie se begroting in die toekoms gaan beïnvloed.” Grobler sê dis nie net die private sektor wat onder beurtkrag ly nie – die regering en staatsondernemings pluk ook die wrange vrugte daarvan. -Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.