Spaar is alles goed en wel, maar om ware rykdom te bou, moet jou geld vir jou werk – deur beleggings.
Só meen die geld-ghoeroes.
Jy dink dalk beleggings is iets wat slegs “ryk” mense doen of is dalk te moeilik om self aan te pak.
Dit is nie die geval nie, meen Suid-Afrikaanse geldkenners. Of jy besluit om deur ’n makelaar te werk of om self jou geldsake aan te pak, is navorsing ’n moet. Plaaslike geld-ghoeroes het ’n paar basiese wenke vir enigeen wat vanjaar wil begin belê.
. Dit is baie belangrik om te weet wat jou plan met jou geld is. Belê jy geld vir aftrede of jou kind se skoolloopbaan? Die geld-doel sal bepaal watter soort belegging gepas sal wees.
. Begin nou – dit maak nie saak of jy R50, R500 of R5 000 het nie, daar is ’n manier om onmiddellik te begin belê. Danksy aanlyn-platforms kan jy selfs ’n gedeelte van ’n aandeel koop met R50.
. Belegging is ’n marathon, nie ’n naelloop nie. Die markte kan wipplank ry, maar moenie paniekerig raak nie. Indien jy goeie navorsing gedoen het en voet by stuk hou, kan jy groot opbrengste in die toekoms verdien.
. As dit te goed klink om waar te wees, is dit. Geld-ghoeroes meen gesonde verstand kan jou ver in die wêreld van beleggings bring.
. Verstaan jou beleggings. Indien jy steeds ná baie navorsing en vele gesprekke met jou makelaar nie verstaan waarin jy belê nie, los af.
. Maak seker die boeke klop. ’n Belegging kan nie groei soos dit moet as jy meer gereeld geld trek as wat jy insit nie. Gee jou geld tyd om vir jou te werk.
. Maak seker jy weet wat die fooie jou op die lange duur kos. Maak seker jy lees die fynskrif en doen die somme om te sien hoeveel geld jy aan fooie (en belasting) sal moet afstaan wanneer jou belegging uitbetaal/volwasse is.
Belegging kan uitdagend wees, maar wanneer jy jou huiswerk doen en professionele hulp kry, kan jy begin om rykdom te bou.