Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Só werk ’n ponziskema

Pasop vir beleggingsgeleenthede wat onrealistiese opbrengste beloof.

Waak teen enige van dié sewe gevaartekens.

Ongeag hoe goed die winste op papier lyk nie – ponziskemas stort gou in duie en dan verdwyn die swendelaar met jou geld. Soms sien die owerhede ponzi­skemas gou raak en stop dit, maar selfs al word die meesterbrein vervolg, het ’n mens geen waarborg dat jy jou geld sal terugkry nie.

Hier is sewe eienskappe waaraan jy ponziskemas kan uitken:

Hoë opbrengs, min risiko

Die beloofde opbrengste is gewoonlik onrealisties en baie hoër as die opbrengste uit wettige beleggings­produkte, ongeag of dit beloof word as kontant, kriptogeldeenhede, rente, maandelikse inkomste of kapitaalwins. Vergelyk die rentekoerse wat dit jou bied met wat oor die algemeen in die mark beskikbaar is. Wettige rentekoerse is tans rondom 7%. As iemand jou vertel jy kan 30% op jou belegging verdien, moet jy snuf in die neus kry. Wees hoogs agterdogtig oor enige “gewaarborgde” beleggingsgeleentheid.

Ongeregistreerde beleggingskemas

Vermy enige skema wat nie by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) geregistreer is nie. Registrasie bied beleggers toegang tot sleutelinligting oor die maatskappy se bestuur, produkte, dienste en finansies.

Geheime of komplekse strategie

As jy nie die skema verstaan of behoorlike inligting daaroor kry nie, bly weg. As jy vertel word die beleggingsmodel is “te vertroulik” of “te kompleks” vir jou om te verstaan, is daar groot fout. Swendelaars sal jou met wonderlike suksesverhale en selfs Bybelverse en geloofsgetuienis probeer verlei. Dis ’n rookskerm wat ’n swak of vae beleggingstrategie moet verdoesel. Jou vrae word ook dikwels as verspot afgemaak of met allerlei slimstories beantwoord.

Aggressiewe bemarking

Ponzi’s steun op die geld van nuwe lede om bestaande lede mee te betaal. As jy baie hard gedruk word om aan te sluit of om meer geld te belê, skort iets. Wettige beleggingskemas genereer hul opbrengste op bates wat reeds belê is; hulle het nie jou geld daarvoor nodig nie.

Opbrengste droog vinnig op

Die geheim van ’n suksesvolle ponziskema is om veral vroeë beleggers goed uit te betaal en daaroor te spog. Daarna word beleggers aangemoedig om hul geld in die skema te laat lê of beleggings te laat oorrol na die volgende maand. So sal hulle kwansuis nog groter opbrengste verdien. Hulle stuur eenvoudige state wat aandui wat jou belegging werd is. Maar probeer jy dit onttrek, kan jy nie . . . As dit gebeur, kry jou daaruit en meld dit by die owerhede aan.

Probleme met papierwerk

Die smouse van dié bedrogskemas het dikwels nie al die dokumente soos die belegging- en finansiële state “byderhand” nie. Moenie enige verskonings aanvaar oor waarom hulle dit nie daar aan jou kan toon nie. Wys hulle die deur.

Maklike tekens

Senior burgers word dikwels geteiken omdat hulle kapitaal het om te belê vir aftrede en graag die hoogste gewaarborgde opbrengs wil verdien. Gieriges en mense wat desperaat vir ’n inkomste is weens byvoorbeeld hoë skuldvlakke of werkloosheid word ook geteiken. En natuurlik ook welaf en goedgelowige mense.

Kitsrykdom uit beleggings het geen towerformule nie.

As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.