SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Sake
Velddrif moet ‘uit die boks dink’ vir sake

Chris van Niekerk, voorsitter van die Velddrif-sakekamer, het ’n kartonboks van die vloer opgetel en aan gaste in die Riviera Hotel gewys.

“Sien julle die boks?” het hy lede by verlede Donderdagaand se sakekamer­vergadering gevra.

“Julle sal uit hierdie boks moet begin dink as julle sakegeleenthede om die Saldanha IDZ (nywerheids­ontwikkelingsone) wil ontgin.”

Die gasspreker by die geleentheid, Abigail Murry, skakelpersoon by die Saldanhabaai-nywerheids­ontwikkelingsone het lede in haar voorlegging vertel watter projekte van die IDZ reeds afgehandel is en watter projekte volgende op die agenda is.

Sodra die grootskaalse ontwikkeling heeltemal voltooi is, sal die IDZ op gas- en olieuitvoer fokus en ook ’n marieneherstelfasiliteit wees. Sy sê die omgewing bied nie net groot sakegeleenthede in die herstel van nywerheidsmarienetoerusting en -onderdele nie, maar ook in die vervaardiging daarvan.

Volgens Murry vind sy dit kommerwekkend dat die hele land van die IDZ praat, maar dat plaaslike mense van ’n buurdorp soos Velddrif nie juis weet wat daar aangaan en hoe hulle ekonomiese voordeel daaruit kan trek nie.

Elmondo Paulse, streeksonderneming- en verskaffing-ontwikkelingsbestuurder van Transnet, het ’n oorsig gegee van Transnet se belegging in die Saldanha IDZ.

Cornelis de Waal, hoofnavorser van Wesgro het die ekonomiese stand van die Wes-Kaap uiteengesit.

Volgens statistieke is die provinsie tans ’n invloedryke sake-eenheid in Afrika en in die wêreld. Hy meen inwoners van die Wes-Kaap, en die mooi plattelandse Weskus in besonder, moet die Wes-Kaap se goeie markposisie ten volle benut.

Yvette Odendaal van Bergrivier Toerisme, het uitdagings in die plaaslike toerismebedryf bespreek. Sy vra ook dat Velddrif se restaurante, hotelle en instellings wat vermaak en verblyf bied, uit die spreekwoordelike “boks begin dink”.

Sy sê Velddrif se toerismebedryf is op die Europese mark gerig, maar nie vir ontluikende markte nie. “Wat bied ons byvoorbeeld aan ’n toergroep van China?” wou sy weet.

Verder meen sy kliëntediens is soos op baie ander plattelandse dorpe “nie op standaard” nie. Sy voel daar is ’n groot leemte wat openbare vervoer vir toeriste betref, en daar is ’n behoefte vir meer konferensiegeriewe en -dienste asook kultuurervarings.

Om gesonde ekonomiese groei in die dorp te verseker het die ondervoorsitter van die Velddrif-sakekamer, Tilman von Zukowski, lidmaatskap aan die sakekamer sterk aanbeveel.

Besoek www.velddrif.info of bel die sakekamer se sekretaresse, Liza Steyn, by 022 783 0325 vir nog inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.