Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Agterbaaiers laat laaste kans deur die vingers glip

St. Helenabaai het Saterdag in ’n spannende wegwedstryd met 13-16 teen Pella vasgeval nadat hy rustyd 13-10 voor was.

Die Agterbaaiers het die wiskundige kans wat hulle gehad het om die uitspeelronde te haal, finaal gegroet.

Die besoekers het met ’n sterk wind agter die blad gespeel en die eerste 30 minute van die wedstryd oorheers.

Hulle was in ’n stadium 13-0 voor.

Pella, met sy een voet reeds in die uitspeelronde, het egter met die wind in sy gesig gewys hy is die hongerste van die twee spanne. St. Helenabaai het in die eerste helfte verskeie geleenthede geskep, maar rotsvaste verdediging van die tuisspan het verhoed dat die besoekers meer punte aanteken.

Die tuisspan het die paar keer wat hy in die besoekers se gebied gekom het, goed gebruik en punte aangeteken. Die besoekers het in die tweede helfte gesukkel om die wind baas te raak en Pella het baie meer gebiedsvoordeel geniet.

St. Helenabaai se skitterende verdediging het die tuisspan egter gekniehalter om sy gebiedsvoordeel in punte om te skep. Twee strafdoele deur Jade Solomons het egter Pella se wa deur die drif getrek.

Die streek kan geen verrassings meer oplewer nie aangesien Saldanha en Pella reeds vir die uitspeelronde gekwalifiseer het.

Saldanha het met sy oorwinning van 47-20 oor Mamre ook reeds verseker dat hy die streekwenner sal wees.

Saldanha het die naweek ’n ruskans voordat hy die grafkelder in Pella besoek.

Hopefield, wat ná die eerste ronde beter rugby speel, het op sy tuisveld vir ’n verrassing gesorg toe die span Vredenburg met 27-26 geklop het. Hopefield sal die naweek na die Agterbaai reis waar ’n omgekrapte Albatros-span op hom wag.

Vredenburg sal wil vergoed vir die afgelope paar wedstryde en ná die oorwinning oor Saldanha is die span egter net ’n skadu van sy ou self wanneer hy Paternoster onthaal.

Paternoster het die naweek min moeite ondervind om Langebaan 37-17 te klop. Die kreefvangers het nou die vyfde plek op die punteleer in die visier en dit kan dalk net genoeg motivering wees.

Velddrif, wat ’n blaaskans geniet het, reis Langebaan toe en is in ’n stryd met St. Helenabaai om die derde plek op die punteleer gewikkel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.