Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Diaz Leeds tops in die Weskus

Diaz Leeds was Saterdag (7 November) in ’n uitspeelwedstryd teen Rangers-sokkerklub van Koekenaap betrokke om die Safa se Weskus-SAB Castle-ligakampioen te bepaal.

Leeds het die wedstryd met 3-2 gewen en sodoende deurgedring na die Wes-Kaapse SAB Castle-liga-uitspeelwedstryde. Hier sal Leeds meeding vir ’n plek in die provinsiale kompetisie, die Motsepe-liga.

Die span van Saldanha het sy seisoen onoorwonne afgesluit.

In die naweek se wedstryd het die Baaiers sy opponent met goeie spel oorheers.

Diaz Leeds-sokkerklub van Diazville het sy getroue ondersteuners trots gemaak met uitmuntende samespel deurdat sy voor-, middel- en agterspelers die wedstryd oorheers het.

Die stryd het voor ’n entoesiastiese skare plaasgevind wat reeds van vroegdag af buite die sportterrein “gees gevang” het.

Rangers het in die vyfde minuut druk op Diaz Leeds gesit en in sy halfgebied geboer en ’n ongedwonge fout deur die tuisspan het tot Rangers se eerste doel gelei.

Diaz Leeds se middelveldspelers het egter begin om die spel te dikteer en hier moet spesiale melding gemaak word van Kingston de Bruyn, Etchwynne “Boel” Williams, Jali Mfezeko asook Cheslin Os.

Die ewe akrobatiese Maradona “Donna” Bester het ná ’n lang besering sy terugkeer met ’n vyfstervertoning soos min gevier.

Leeds het in die 18de minuut teruggekom met pragtige samespel tussen sy voor- en agterspelers en die jong belowende speler van Vredendal, Verno Saal, het drie opponente geklop om die bal met ’n pragtige hoekskop in die doelhok te plaas.

Leeds het met die telling op 1-1 beheer oor die wedstryd geneem.

Devonito “Mbappe” Kanow het met ’n vlymskerp breekslag toegeslaan. Hy het twee verdedigers geklop en die bal in die doelhok geplaas om die telling 2-1 in Leeds se guns te swaai.

Dit was ook die rustydtelling.

Rangers het egter ná rustyd terugbaklei met goeie samespel tussen sy middelskakels om die telling gelykop met 2-2 te maak.

Die laaste minute van die wedstryd was angswekkend met al twee afrigters wat verskeie aanpassings aan hul spanne se spelpatrone gemaak het.

Leeds se afrigters, Petrus “The Most” Eksteen en Valentino “Drogba” Huyster, het met ’n meesterlike skuif verseker dat Leeds die wedstryd wen.

Een uitblinker vir die tuisspan was Masciano Ockhuys, wat met sy gevaarlike hoekskoppe groot druk op sy teenstander geplaas het. Ashwin “Ash” Yabo het van die plaasvervangerbank gekom en die wendoel vir Leeds aangeteken nadat die middelskakels groot druk op hul teenstanders geplaas het.

Leeds se skerpskutters, Verno Saal, Devonito “Mbappe” Kanow, Cheslin Os en Kigston de Bruyn, was weer dorings in hul teenstanders se vlees.

Diaz Leeds se uitblinkers was Donna, Mbappe en Cheslin Os en Kingston wat as speler van die wedstryd aangewys is.

Leeds, wat tans sy 35ste bestaansjaar vier, het vanjaar alle opposisie uit die pad gevee om sodoende as kampioen gekroon te word.

Die Wes-Kaapse uitspeelwedstryde sal eersdaags in die Suid-Kaap plaasvind.

Leeds se bestuurspan bedank al sy ondersteuners en borge vir hul ondersteuning die afgelope seisoen.

Die span vra ook die Weskus-gemeenskap se ondersteuning vir hul volgende kompetisie wat in die Suid-Kaap plaasvind.

Bel Gerald Cleophas by 081 838 3831 vir enige navrae of skenkings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.