Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Grootuitdaagstryd skop af

Die Boland Grootuitdaag-bekerstryd het die naweek afgeskop met Vredenburg wat Paternoster tuis gepak het.

Die tuisspan het die stryd wel 38-7 gewen, maar moes hard werk vir dié sege.

Paternoster het die tuisspan van die afskop af met fisieke spel onder druk geplaas, maar die tuisspan het nooit daaronder geswig nie.

Die eerste helfte was baie gelykop met al twee spanne wat kanse op punte verbrou het. Vredenburg kon die eerste punte eers ná byna 30 minute se speeltyd aanteken toe sy heelagter, Ruan Kleinsmith, ’n strafskop oorgeklits het om sy span 3-0 te laat voorloop.

Vredenburg, wat een van die gunstelinge is om sy stem hierdie seisoen te laat hoor, sal egter moet aandag skenk aan sy hanteerwerk, want teen sterker spanne kan dit die verskil tussen wen of verloor wees.

Die spanne het gaan water drink met die telling 11-0 in die tuisspan se guns, waarna die tweede helfte meer aanvallende rugby opgedis het met al twee spanne wat die bal rondgegooi het.

Die besoekers het hul rekening met ’n verdoelde drie geopen om binne bereik van die tuisspan te bly. Vredenburg het egter wakkergeskrik en die besoekers moes keer vir alles wat hy werd was.

Die tuisspan se voorspelers het ook meer as ’n eenheid begin saamspeel met Jeremy Papier en die kaptein, Rowen Syster, wat hul teenwoordigheid laat geld het.

Vredenburg sal hierdie naweek behoorlik getoets word wanneer hy vir sy eerste wegwedstryd Velddrif toe reis terwyl Paternoster die span van St. Helenabaai ontvang. Langebaan het vir die grootste verrassing gesorg toe hy die Agterbaaiers in ’n wegwedstryd met ’n pap snoek geslaan het.

Langebaan, wat verlede seisoen ’n matige seisoen beleef het, het die tuisspan 21-15 in ’n baie gelykop stryd geklop en sy stem vroeg dik gemaak. Hy pak Young Hearts van Pella Saterdag tuis. Saldanha, die verdedigende SwartWeskus-streek-kampioen, het op sy tuisveld min moeite ondervind om Hopefield te klop. Die Baaienaars het 48-10 koning gekraai en beklee die eerste plek op die punteleer.

Die Baaienaars reis die naweek na Mamre terwyl Hopefield ’n loslootjie geniet. Mamre het Young Hearts van Pella Saterdag bloed laat sweet vir ’n sege in sy eerste wegwedstryd van die seisoen. Die groentruie, wat rustyd nog 11-8 voor was, is gewis nie die span wat hy verlede seisoen was nie en die spanne sal hard moet werk vir ’n oorwinning teen die groenes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.