Atlete van Vredenburg se Salkoriane-atletiekklub het onlangs hul laaste wedloop voor ’n welverdiende blaaskans ingekry.
Die Salkor-atlete – vier stappers en ’n drawwer – was deel van honderde atlete wat verlede week aan Langebaan-atletiekklub se padwedloop deelgeneem het. Die atlete was: Welize Burgess, Sakkie Mentoor, Patricia Galant, Hennie Basson en Rivaldo Vigaro.
Volgens Mentoor, ’n stapper en die voorsitter van die klub, was die geleentheid ’n “welkom bries” ná die maande van strenger Covid-19-inperkings. “Voor dit het die atlete aan verskeie aanlyn (virtuele) byeenkomste deelgeneem.
Saterdag was dit egter die ware jakob en die atlete het goed by die gemaklike en plat roete aangepas,” vertel Mentoor trots. Vigaro was Saterdag 12 Desember in die Paarl waar hy aan die inter-provinsiale byeenkoms by die Dal Josafat-stadion deelgeneem het.
Daar het hy heel skaflike tye gehardloop – hy het die 800 m in 04:24 kafgedraf en was algeheel negende in die 1 500 m uit altesaam 18 mededingende atlete.