Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Toeka se voetbôl in Hopefield . . .

Rugby is vandag ’n professionele sport met baie politiek, maar vroeër dae het dit ’n belangrike rol in die platteland gespeel as ’n sosiale aangeleentheid waaraan die hele gemeenskap op ’n Saterdagmiddag kon deelneem, hetsy as ’n speler of as ’n toeskouer.

Hopefield was geen uitsondering nie en die rugbyveld het reg in die middel van die dorp langs die kerk gelê. Al die ander dorpe in die omgewing se voetbôlvelde het aan die buitewyke gelê.

Voetbôl ’n ernstige saak in Hopefield

In sy lengte het die veld noord/suid gelê met die kerk en pastorie oorkant die straat aan die westekant. Die noordelike doellyn was teen die hoofstraat en die suidelike doellyn grens teen die dorp se tennisbane. Die Railway-hotel van Sydney Zank was in die noordoostelike hoek oorkant die straat. Die ou dorpsvaders het hul prioriteite reg gehad met die uitlê van die dorp.

Die klein paviljoen was in die middel van die westelike gedeelte met net die breedte van die atletiekbaan wat dit van die kantlyn skei.

Die toeskouers kon dus lekker naby die spelers sit. Aan die oorkant van die paviljoen was daar net genoeg plek vir ’n ry motors, so ook alkant van die paviljoen. Die oppervlakte van die veld was nie heeltemal gelyk nie en ’n mens het altyd die gevoel gekry jy hardloop afdraande na die westelike hoek toe. Wat die besoekende spanne baie gepla het, was die sandkolle waar die kweek­gras nie heeltemal toegemaak het nie.

Augustus het die gousblomme bont agter die doelpale gestaan.

Onder die paviljoen was die tokkamers, links vir die besoekers en regs vir die plaaslike span. In elke hoek van die tokkamer was ’n koue stort. Wie kon dan ooit die aroma van daai tokkamers vergeet?

Die reuk van sweet, Horse Embriocation, Vicks, benoude winde voor ’n wedstryd, Lifebuoy-seep, babapoeier vir skaafplekke en ouens wat pepermente kou. In die klein kamertjie langsaan het die kalk-emmers, hoekvlae en gereedskap gestaan.

Van kleins af is jy geleer om rugby te speel

Eers die o.13-spannetjie, dan die o.15’s, onder standerd agt, tweede span en dan die eerste span. Ek onthou my heel eerste rugbywedstryd in die o.13-span in Darling waar ek ook my eerste drie gedruk het, tussen ’n klomp geel tulpe, en met die opstaanslag ’n koekema­kranka uitgetrek het! Almal het tot standerd agt kaalvoet gespeel, dan eers kon jy stewels aantrek. Dit was nog propperse oprygstewels, of jy nou in die agterlyn gespeel het of nie. Eers hier in 1960 het ek die eerste keer rugbytoks, wat soos vandag se stewels lyk, gesien.

Louis Carstens van Malmesbury het die eerste paar Kalamanzoos gehad en die mense het gesê as jy hulle aan jou voete het, keer niemand jou nie!

Ek kon nooit ’n paar bekostig nie en het selfs op universiteit vleuel gespeel met my stewels. As ons in Velddrif gaan speel het, moes die heelagter ’n dubbel paar kouse aantrek om sy voete teen die dubbeltjies te beskerm, want in daardie dae het ’n heelagter baie rondgestaan.

Ons ander manne het maar met ons voete so skuur-skuur gehardloop.

Die rugbybal was van leer en op ’n reënerige dag was dit so glad soos ’n koekie seep, veral as die bal al begin oud word en sy vorm verloor het.

Jy is vir ’n aanslaan geblaas as jy net die bal so in jou hande vervat.

Ou Loupie, ons afrigter vir die laer spanne, het altyd met ’n lang lat op die veld ’n man gepiets as hy die bal aanslaan of laat val.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.