Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Toernooi belowe ’n fees te wees

Ingelegde kerrievis, paasbolletjies en die Transnet / Saldanha Super8-rugbytoernooi.

Dít alleen behoort op die Weskussers se spyskaart te wees wanneer die tweede Transnet / Saldanha Super8-rugbytoernooi in die Paasnaweek by die Saldanha-stadion aangebied word.

Die spanne wat aan vanjaar se toernooi deelneem, is Roses United (verdedigende kampioen), Villagers Worcester (Boland-ligakampioen), Saldanhabaai (Weskus-kampioen en gasheer), Wesbank (Swartland-kampioen), St. Helenabaai, Vredenburg, Mosselbaai Barbarians en Kuilsrivier.

Wel, jy moet dit maar op jou eie rekening skryf as jy nou al ’n wenner wil kies. Die Weskus-spanne – Saldanha, Vredenburg en St. Helenabaai – wil probeer om die trofee in die Weskus te hou. Veral Saldanha sal voel dat die ongeluksvoël hulle bloots gery het in verlede jaar se eindstryd toe hulle in die doodsnikke deur Roses gesink is.

Vanjaar kan egter ’n perd van ’n ander kleur wees. Saldanhabaai het ’n nuwe afrigter en ’n hele paar nuwe gesigte in hul senior groep en sal by die toernooi wil wys dat hulle hul plek in die groep verdien. Saldanhabaai het in hul vriend-skaplike wedstryde gewys hulle is nie hier vanjaar om oor koeitjies en kalfies te gesels nie, maar om hul stempel af te dwing. Hierdie Saldanha-span gaan ’n harde neut wees om te kraak by die toernooi.

Vredenburg is nie eens ’n buiteperd nie. Hy is die perd in die wedloop. Onthou die riller in verlede jaar se openingswedstryd by die Super8-toernooi. Hulle het byna vir die skok van die toernooi gesorg toe hulle Saldanha laat klippe kou het. As jy ’n oulap het om ’n weddenskap aan te gaan, kan jy maar die geldjie op Vredenburg verwed. En dan is daar St. Helenabaai. As hulle die dag nie lus het vir grappe nie, is hulle in ’n verwoestende bui. Hou maar St. Helenabaai dop, wat die verrassingspakket van die toernooi kan wees.

Volgens Yaaseen van der Westhuizen, nuutverkose voorsitter van Saldanhabaai-rugbyklub, is die klub bevoorreg om ’n ankerborg soos Transnet te hê. “Ons bied nie net ’n toernooi aan nie, maar bied ’n topklas-toernooi aan met ’n topklas-borg. Saldanhabaai-rugbyklub behoort aan die gemeenskap. Hulle is die aandeelhouers in die klub.

“Ons kan met trots ons bors uitsteek. Ons beplanning vir die toernooi is afgehandel en die tafel is gedek vir ons rugbyliefhebbers. Ons ander borge het ook soos gewoonlik hul hande diep in hul sakke gesteek om die toernooi ’n onvergeetlike ervaring te maak.

“Ons vra die Weskussers om te verenig agter Saldanhabaai, Vredenburg en St. Helenabaai.”

Van der Westhuizen het egter gewaarsku dat streng veiligheids-maatreëls in plek is vir die toernooi. Geen drank sal binne die perseel toegelaat word nie. “Ons het ekstra sekuriteit aangestel. Daar sal ’n biertuin wees en mense kan ook die wedstryde op die groot skerm kyk sonder dat hulle enige aksie hoef te mis.”

Al die wedstryde word deur Supersport gedek met die eindstryde wat regstreeks uitgesaai word. “Ons is bevoorreg om ’n media-vennoot in Supersport te hê. Ons koester hierdie verhouding en dit onderstreep ons beginsel dat ons ’n topklas-toernooi aanbied.”

Die loting en die bekendstelling van vanjaar se toernooi het gisteraand (5 April) by die Saldanha-sportstadion plaasgevind en is deur verskeie hooggeplaastes bygewoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.