Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Weskusrugby op sy beste

Soos fyngekerfde biltong op varsgebakte brood, só vingerlek-lekker gaan vanjaar se tweede Transnet/Saldanha-rugbyklub se Super8-Paasnaweektoernooi wees.

Die toernooi, wat oor drie dae gespeel word, skop eerskomende Donderdag af.

Die vonke behoort sommer al met die intrapslag te spat.

Rugbyliefhebbers wie se senuwees dalk gou op hol raak, moet dalk eers by die naaste apteek ’n draai gaan loop, want as die loting ’n aanduiding is van wat verwag kan word, gaan dit maar neuk om nie senuweeagtig te word nie.

Worcester Villagers en Wesbank van Malmesbury pak mekaar in die heel eerste wedstryd van die dag. Die Swartlanders het ’n taamlike appeltjie met die manne uit die Breërivier te skil nadat Worcester Villagers in die halfeindstryd van die Boland se liga-kompetisie Wesbank net-net geklop het. Rugbyaanhangers spot Wesbank dra die titel dat hy altyd maar net die strooijonker van die Boland sal wees en nooit die bruidegom nie, maar die vriendelike waarskuwing uit die Wesbank-kamp is dat hy alles in die stryd gaan werp om Worcester Villagers te laat les opsê. Dis egter makliker gesê as gedaan. Worcester Villagers is nie verniet die Bolandse kampioen nie en is gemaak vir groot oomblikke.

In die tweede wedstryd pak Roses, die verdedigende Super8-kampioen, St. Helenabaai. Roses is die oorweldigende gunsteling en betoon geen genade aan enige span nie. St. Helenabaai kan dus allermins spesiale behandeling van Roses verwag.

Maar, Roses ken nie St. Helenabaai nie – dié span is die onbekende faktor. Dit gaan lol vir Roses as St. Helenabaai se voorspelers met hul kenmerkende rolmaalbewegings aan die gang kom. Die Agterbaaiers sal net dalkies ’n haas uit die hoed kan pluk, want hulle is gewis nie by die Transnet/Saldanha Super8-toernooi net om getalle op te maak nie.

In die derde wedstryd net ná die openingseremonie is dit Saldanha en Vredenburg se beurt. Verlede jaar was hulle ook in ’n rillerstryd betrokke. Vredenburg het Saldanha in die laaste liga-wedstryd op eie bodem geklop en daai letsel sit diep. Kyk maar net hoe Vredenburg die arme Paternoster die afgelope naweek in ’n liga-wedstryd verfomfaai het. Dit is glad nie goeie nuus vir Saldanha dat hulle in so ’n verwoestende bui is nie. Saldanha is self nie lus vir kinderspeletjies nie. Dis hul toernooi en hul veld en niemand kom sommer wet slaan op hul eie veld nie. Hulle sal jou behoorlik straf as jy verwaand is.

In die hoofwedstryd pak Mosselbaai Barbarians uit die SWD vir Kuilsrivier. Barbarians hol enige span kis en as Kuilsrivier se asem nie gaan hou nie, gaan dit ’n lang drie dae vir hulle in die Weskus word.

Om op te som: As jy planne gemaak het om iewers anders te wou gaan vir die Paasnaweek, bly maar in die Weskus – hier kom ’n grote!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.