Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
As kinders ‘oorvat’, moet ’n mens eerder gedweë terugstaan

Daai ou wat my vol gasbottel gesteel het moet weet dat hy my baie meer geld gekos het as die waarde van die gesteelde goed.

Want sien, die kinders in die Kaap het besluit dis mos nou glad nie meer so veilig hier by die Weskus soos ons gedink het nie. Nee, hulle besluit dat die veiligheid hier by die huis “opgegradeer” moet word. Berigte oor die vrou wat in Vredendal in haar huis vermoor is nadat sy die Kaap verlaat het om “veiliger” te wees, het nie juis gehelp nie!

Dis ook nie onderhandelbaar nie. Hulle kontak sommer self die veiligheidsmaatskappy, vertel waarop hulle aandring en vra ’n kwotasie aan. Toe laasgenoemde by my uitkom, skrik ek omtrent my agterstewe af. Dis geld, sommer baie geld wat hier ter sprake is. Maar nog voordat ek beswaar kan maak, lig die kinders my in dat hulle daarvoor sal betaal.

Dit, besluit ek daar en dan, is nie ’n opsie nie. Ek glo nou maar eenmaal dis bitter onregverdig van ouers om van hul kinders te verwag om hulle te help onderhou.

Nog voordat ek behoorlik verdere strategie kan uitdink, daag die ou van die veiligheidsmaatskappy by my huis op. Hy reken dat my dogter hom opdrag gegee het om hiernatoe te kom sodat sy presies kan verduidelik hoe en waar die nuwe toerusting geïnstalleer moet word.

Soos die duiwel dit wil hê, is sy selfoon op “speaker” sodat ek elke woord van haar kan hoor terwyl hy my skaapagtig aankyk. “En moenie dat my pa vir jou vertel die en daai is onnodig nie. Hy sal dit waarskynlik probeer,” reken Sus.

Lang storie kort – ’n dag of drie later is hy hier met ’n gelaaide bakkie vol “goeters”. Hy en sy handlanger installeer nuwe “ogies, beams, panic buttons” en wie weet wat nog alles, net waar jy kyk. Hy moes seker weer met die kinders kontak gemaak het, want kort nadat hy weg is, kry ek e-pos waarin tevredenheid uitgespreek word.

Ek was nog nie by die Amerikaners se Fort Knox waar hulle glo triljoene se goudreserwes stoor nie, maar ek vermoed sterk dat my huis nou nog veiliger is! En ek aansienlik armer.

Probleem is dat ek nou die spul moet laat werk. Ek druk aanmekaar die verkeerde knoppies en die veiligheidsmaatskappy se beheerkamer is teen dié tyd seker al gatvol vir my vals alarms. Maar ek vorder. As ek nou net kan onthou om die “beams” af te skakel wanneer die twee jackrussels snags wil uitgaan om te piepie!

Interessant hoe die rolle omruil as jy oud word. Toe ek en ons jongste op ’n keer Londen toe is om die Bokke op Twickenham nog ’n slag teen die Ingelse te sien verloor, het ek dit deeglik besef – waar ons as ouers voorheen heeltyd besorg was oor die kinders, is dit nou meer andersom.

“Pa, het jy jou paspoort? Nee, ons trein vertrek van daar af! Pasop vir die gat! Is daai baadjie warm genoeg?” het my finaal laat besef die rolle het inderdaad omgeruil.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.