Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Hoe jy die jaar benader hang van jou af – oorwinning of nederlaag

Sopas het ons ’n nuwe jaar binnege­gaan, maar nie sommer só ’n jaar nie. Want so stil-stil het hierdie eeu mondig geraak en dan is 2021 mos iets om te vier, nie waar nie?

Onmoontlik, sal baie mense seker ook sê, want ons gaan gebuk onder streng maatreëls weens die viruspandemie, en loop rond soos lafgeklapte klone met ons maskers en al. Maar dit tref my nou die dag in ’n epifaniese oomblik: Moet ons nie eerder konsentreer op wat ons nog kán en mág doen nie?

Ek meen, niks verhinder ons om soggens na die sonsopkoms oor die berge te kyk nie, of hoe die son rooi in die weste sak nie. Die meeste van ons het wel nog die voorreg om by ’n winkel in te stap en te koop wat ons nodig het, en soms ook wat ons nie so nodig het nie.

Ons kan steeds die geborgenheid van ons gesinne geniet, of die oomblik wanneer ’n troeteldier ons ’n natleksoen deur die gesig gee. Ons kan min of meer vrylik rondbeweeg, behalwe snags. Ons het steeds lopende water en so nou en dan elektrisiteit. Ons kan op hete dae in die swembad plas terwyl die vuur vir net-nou se braai knetter. Ons kan steeds keuses maak. Die meeste van ons ly nie honger nie. Ons kan ’n vriend besoek vir Coke en koek, en simpatie. Die lysie kan nog baie langer raak terwyl ons ’n mondigwording het om te vier. Ons het dit gemaak tot hier, nou vir die volgende 21! Hoe jy die jaar benader hang van jou af. Ons kan kies: oorwinning, of nederlaag.

Stel jou voor jy het ’n vrugbare stuk grond. Daar is volop sonskyn en baie water. Jy plant en jy oes, maar dan gebeur iets buite jou beheer en jy moet vir ’n wyle weggaan. Wanneer jy terugkom, is die grond lowergroen, maar dis alles onkruid. Ons brein is soos daardie stuk vrugbare grond. Dit sal altyd plantegroei voortbring, ons kan dit nie keer nie. Maar wat ons wel kan beheer, is wát daar groei. Ons kan die onkruid, die swartgallige gedagtes, uitroei en wilde diere weghou. Ons kan positief dink en optimisties wees.

Tot twee derdes van die wêreld se e-pos is spam. En wat maak ons daarmee? Ons vee dit uit, ons druk delete. Al daardie negatiewe gedagtes is spam vir die brein. Ons kan kies om dit uit te vee, of ons kan daaroor wroeg. En as ’n mens ’n mondigwording vier? Reg geraai, jy vee dit uit.

Op ’n ligter noot: Op Oujaarsdag 2020 kom ons op ’n klein Weskusdorpie om petrol in te gooi. So ’n opgeskote seun – die petroljoggie – staan nader toe ons uitklim en ek vra hom hoe hulle die aanbreek van die nuwe jaar gaan vier sonder iets om die keel nat te maak.

Nee, sê hy, hulle hét hul “bronne”. Maar dis dan nou onwettig, sê ek. En hy antwoord: “Meneer, die saak staan só: As long as what happens in Vegas stays in Vegas!

Daarmee voorspoed en alle heil vir die nuwe jaar!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.