Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Is ons nie maar almal verskillende kante van die dobbelsteen nie?

Om anders te wees

Die jaar is 2006. Dis week vyf van ’n moordende, maar hoogs verrykende 12 weke somervakansieprogram by Black Rock, Lancaster County, Pennsylvania, in Amerika. Dis die week vir spesiale kampeerders. Ek is ’n bietjie bewerig in die broekspype. Ervaring met werk met gestremdes is nul. En daar sien ek hom – Dougie. Ons is dieselfde ouderdom, maar hy’s anders. Dougie is ’n dwergpersoon. Met die eerste oogopslag het ek net daardie gevoel gekry – dit is my werk wat uitgesit is vir my vir die komende week. En wraggies – dit was net so! My eerste paar dae kon ek nie aan kos raak nie. Ek het nog nooit soveel spesiale mense op een slag gesien of in een ruimte ervaar nie. Van siek speel en verlof insit was daar geen sprake nie. Hier sal ek moet deurdruk. Dit was my dierbare ma se woorde wat my in my uur van nood gered het – “Man, kom net oor jou iepekonders,” sê sy altyd as jy vol draadwerk begin word. Ook my oudste suster se liefdevolle passie om met gestremde kinders te werk, het daardie ekstra motivering gebied. My week saam met Dougie was van die beste nog. Solank hy sy plastiek Oreo-koekie en pienk speelgoedvarkie in die hand gehad het, kon alles rondom hom maar gebeur. Dougie het my aarde toe gebring; kom leer dat hy net soos die res in staat is om alles saam te doen en te beleef. Ons kon mekaar se respek, omgee en liefde aanvoel, en dit het die knoop deurgehak.

Selfs die hindernisbaan wat almal geglo het hy nie sou kon baasraak nie, het hy saam met die ander voltooi. My hart het geswel van trots en Dougie het van oor tot oor geglimlag. Jare daarna het ek, terug op eie bodem, ook met soveel ander “Dougies” in my werk en persoonlike lewe te doen gekry. Ek het intens bewus begin raak van my deernis, liefde, omgee en passie vir die afvlerkkind of -mens; die eenkant-mens; die under dog; die kind of mens wat soos ’n seer vinger by ’n sport­geleentheid uitstaan, want sport is nie in sy bloed nie – kuns of musiek wel.

Ek was ook bewus van die kind of mens wat eerder eenkant gaan staan omdat hy of sy nie by maats se nuutste modeklere of skoene inpas nie; meer nog (ná my Dougie-ervaring) vir die mens met ’n gestremdheid van die een of ander aard – nie net die ooglopende fisieke gestremdheid nie, maar ook dié van anders praat, lyk, dink of doen.

Dit was ’n les waarvoor ek ewig dankbaar sal wees – respek, liefde, aanvaarding en opregte omgee verrig wondere – gestremd of nie. Ook die andersheid van hulle wat anders glo, aanbid of leef as ek. Hieruit kon ek leer dat daar ’n werklikheid wyer en groter is as my eie konteks en bestaan. Hier dink ek aan die jongman of -meisie wat die eerste keer vrede maak met sy of haar seksuele oriëntasie en die eerste keer vry voel om te wees en te leef; wat die eerste keer ontdek dat dit nie nodig is om die somtyds die koue kant van die lewe alleen aan te durf nie.

Die romantiese liefde tussen twee mense oor die kleurgrens met geen samelewingsboksies wat dikteer hoe en wat jy veronderstel is om te wees, te lyk, te leef, te dink of te doen nie; ook die gestremdheid van hulle wat vasgevang is in die web van titels, status, -ismes en verdoeselde verval in afhanklikheid van die een of ander aard. My Dougie-ervaring het my geleer dat ek bewus moes raak van my eie onnodige iepekonders, en met die sagte oog en hand van liefde kan deurbreek en ’n hand van onvoorwaardelike aanvaarding uitreik na die ander se gebrek, juis omdat ek bewus begin word van my eie gestremdhede. Wie is ek om te oordeel? Is ek beter as die ander? Is ons nie maar almal net verskillende kante van die dobbelsteen wat wag om reg te val vir onsself nie?

In die spieël van andersheid het ek eerder uniekheid ontdek. Die weerkaatsing in die spieël het my uitgedaag om los te breek en vry te leef, want die vreugde van eie vryheid verbreek die boeie en kettings van hulle wat oor my lewenspad kom – ’n kaleidoskoop van kleur, vreugde, ritme, harmonie, verskeidenheid en kreatiwiteit kom los as andershede ontmoet. Ons nooi mekaar om saam te reis, saam te droom, saam te ontdek en saam te lag, maar ook saam te huil; met ’n heilige respek vir mekaar se vandaankom geduldig die skoon skilderdoek begin inkleur met die helderste variasies vir hierdie meesterstuk van ’n kunswerk waaraan ons saam skilder. En as die eerste probeerslag misluk, het ons genoeg van als om oor te begin; selfs tyd om hardop te lag vir die blapse wat ons begaan.

Geniet jou andersheid. Geniet jou uniekheid, want jy is vry!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.