Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Nagtelike ‘gangverkeer’ in hospitaal maak dit onmoontlik om te rus

Ek is nie ’n liefhebber van hospitale nie. Wie is? My onlangse gedwonge besoek het niks gedoen om my afkeer van sulke plekke te verminder nie. Inteendeel.

Jy gaan glo hospitaal toe onder meer om te rus. Ga! Hoe de hel kry jy gerus, om van slaap nie eens te praat nie, met die nagtelike gangverkeer buite jou saal. (Of moet dit eerder “sel” wees?), wat erger klink as Adderleystraat s’n in spitstyd. As jou selmaat hoes en snork tegelyk dat dit klink soos ou PW se tenks wat Angola binnegeval het, word slaap net ’n vae herinnering.

Die dag tevore word ’n rits spyskaarte onder jou neus gedruk en jy moet besluit wat jy vir die volgende drie dae se maaltye wil eet. Eet jy nie alles wat op jou bord is nie, is die kombuistannie op jou en wil weet of haar kos “sleg” is. Dan moet jy maar mooi trap, want sy’s eintlik ’n dierbare mensie.

Dan daardie nuwerwetse beddens wat hulle het. Jy kry ’n afstandbeheerder, maar glo my jy behoort eintlik vooraf ’n kursus te loop om te leer om die ding en die bed met mekaar te laat praat. Daar’s ’n rits knoppies wat jy kan druk vir oplig, bo oplig, kant toe draai, anderkant toe draai, middel te laat sak of styg en wie weet wat nog alles. Dink jy moet maar versigtig werk met dié kontrêpsie. Hy kan jou dalk net van die bed afgooi of sommer by die venster uit!

Moet darem erken party van die verpleegpersoneel is duidelik baie beter opgelei as ander en doen wonderlike werk. Ook die dokters verdien ’n pluimpie vir hul professionaliteit en toewyding.

Maar nou praat ek nie van daai een wat jou met ’n skok laat wakker skrik as sy ’n skerp naald in jou wysvinger opdruk nie. Seker maar om ’n suikertoets te doen.

En sowaar, dit gebeur wel dat iemand 03:00 wakker gemaak word om ’n slaappil te drink! Dit met eie oge gesien! Vra jy een vir jouself, kry jy net ’n vuil kyk as jou dokter dit nie voorgeskryf het nie.

Laaste maar beslis nie die minste nie, is die skoonmaakpersoneel. Hulle is heeltyd doenig en daar is meer as genoeg van hulle. Maar ai, praat van halwe werk.

As ek so moet afskeep wanneer ek die kinders se ma in die huis help, slaan sy my sowaar met die stofsuier oor die kop.

Die mop wat gebruik word, is soms duidelik nie skoon nie en daar sal bo-op ’n papiertjie getrap word eerder as om dit op te tel.

Dis beslis nie die nagskof-mense se skuld dat Esdôm se kragverkope so aan die afneem is nie. Elke lig moontlik word aangehou, selfs as dit sekerlik al slaaptyd moet wees. Vra jy een om dit af te skakel, doen sy dit, maar die volgende skakel maar net weer aan en loop uit sonder om dit af te skakel. So jy probeer maar om jou eie bietjie donkerte te maak.

Lekkerste vir laaste is wanneer jy hoor jy kan huis toe gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.