Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Vir wie stem ek en jy op 8 Mei – ‘ek het nie ’n koekenkloe nie . . .’

Tensy dit nou liegnuus, fopnuus of wat ook al is, is dit moeilik om te glo dat jy op 8 Mei met nie minder nie as 48 sogenaamde politieke partye se name op jou stembrief gekonfronteer gaan word.

Al gehoor van Women Forward, International Revelation Congress, Compatriots of South Africa? Toe maar, ek ook nie.

Dit het volgens my beskeie mening als te doen met die stelsel waar enige party nie juis veel stemme hoef te kry om een of dalk meer sitplekke op die soustrein te kry nie.

So as jy al lankal smag na ’n plekkie op daai gemaklike groen bank, stig ’n politieke party, kry jou naam vanself­sprekend in die nommereenposisie op jou kandidatelys en jou geleentheid is uitstekend.

Veral as jy weet wat jy moet doen om jou naam in die media te kry met jou beleidsverklaring.

So kan jy byvoorbeeld te kenne gee dat jy staan vir teregstelling deur ’n vuurpeloton van almal wat skuldig is aan ’n aandeel aan staatskaping. Of dat beurtkrag permanent moet wees sodat ons niks meer geld op “Eksdom” hoef te mors nie.

Kyk man, dis nou regtig met jou agterstewe in die botter val, want as jy eers daar is, hoef jy niks te doen nie en die belastingbetaler sorg dat jy klokslag jou vet salaris, toelaes en ander byvoordele ontvang.

Jy kan boonop lekker sit en slaap en niemand sal ’n oog daaroor knip nie. Enigste probleempie is dat jy dalk net wakker gemaak word van die lawaai as Juju-hulle die soveelste keer uitgejaag word met behulp van die wit hemde. Wat nogal steurend kan wees aangesien jy daai slaap bitter nodig het nadat jy die vorige nag alweer lekker gejol het op kreef, Franse sjampanje en die duurste beskikbare whiskey waarvoor jy alles met jou “werk” se kredietkaart betaal het.

Die groot vraag in baie mense se gedagtes is wáár om daai kruisie te trek op 8 Mei. Die onderwerp is tans baie gewild, veral in gesprekke by braaivleisvure (vir die ouens wat nog vleis kan bekostig) en by watergate waar die dop nog mildelik vloei.

Al is daar amper niks meer in die koskas by die huis nie, die kar se petroltenk is amper leeg, die kerse by die huis het ook al opgebrand en die agterstallige rekeninge hoop op.

So hoor jy een ou reken hy gaan ANC stem, want Cyril is die enigste een wat dinge kan regruk. Waarop ’n ander ou hom reghelp deur daarop te wys dat jy dan ook Cyril se diewe-brigade bykry. Iemand reken hy was ’n stoere DA-ondersteuner, maar hy’s klaar met hulle. Mmusi is ’n wolf in skaapsklere en gaan nog oorloop ANC toe. Hy word weer herinner daaraan dat die DA steeds die beste kans het om ’n broodnodige opposisie te wees. Nog ’n ou reken Lekota is sy man. Hy word getakel dat Lekota dalk nie eens ’n plek op die soustrein kan haal nie. Ensovoorts.

Wat gaan ek stem? Ek het nie ’n koekenkloe nie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.