Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Voorreg om in ’n huis te bly, gevul met warmte, liefde en waardes

My pa is nou maar eenmaal soos sy oorlede pa – glad nie lief vir ’n dokter se spreekkamer nie.

My oupa Joos (my pa se pa) was verplig om hier teen die einde van sy lewensreis op aarde daai besoeke aan oom dokter af te lê.

Dit het gekos om my pa te oortuig dat die inloer by oom dokter ’n noodsaaklike een is. Dat die operasie wat voorlê vir hom die antwoord kan wees om nog ’n klompie gehalte sonskynjare saam met ons deur te bring. Nóg sonskynjare in die huis, gemeenskap en streek wat hy so goed ken en liefhet.

Kyk, my pa is een van daai mense wat geen vlieg sal skade aandoen nie. Wat omgee vir alles en almal sover dit binne sy vermoëns strek. Wat in sy eenvoud as mens hou van die roetine en ritme wat hy hier in sy aftree-jare so begin koester.

Ontbyt, oggendstappie om die spiere en werwels aan die gang te hou, radionuus en ’n slapie om 11:00. Dan middagete, namiddagslapie, weer die nuus en dan die somme laat klop vir sy klein huiswinkel wat darem ook net-net kop bo water hou in die uitdagende tye waarin ons leef. Laat namiddagstappie, aandete, TV-nuus en dan gaan inkruip vir sy nagrus. En dis weinig dat jy sommer hierdie roetine van hom sal kom versteur, want hy is intiem bekend met dit wat hom sin, vrede en gelukkigheid bring.

Hier in sy drievertrek-skakelhuis (wat later viervertrek geword het) met die prominente kraak in een van die kamermure. Die einste kraak wat my as jong kind so gefassineer het. En toe ek oud genoeg was om self drie en vyf bymekaar te sit, die koudheid van ’n onregverdige landstelsel te verstaan.

Die resultaat van substandaard vakmanskap wat uitloop op krake, kleifondasies, sinkdakplafonne en puttoilette aan die buitekant. Die lang kraak teen die muur het my altyd aan hierdie volledige prentjie van ongelykheid, swaarkry en hoopvolle uitsien na beter dae herinner.

Met konstruksiewerk op streeks­grondpaaie vir langer as drie dekades het hy die agt monde van ons gevoed gehou. Ek kon skool voltooi. Ek kon my studie aan die kollege voltooi met die min wat sy padwerkloon ingebring het. My grootwoord-oë het begin sien en leer wat belangrik in die lewe is – werksywer, toewyding en lewenswaardes wat geen geld kan koop nie.

Die kraak in die muur het gebly, maar my voorreg was om te bly in ’n huis gevul met soveel warmte, liefde, waardes en ouers wat uit die min altyd iets het om met almal te deel.

Die eenvoud is nog daar, maar het plek gemaak om na al die jare terug te kyk, te skitter met die weelde van trots, opregtheid en medemenslikheid. Dis hierdie einste lewensuitkyk en waardes wat die hand van engele beweeg het om die kraak te herstel, die fondasies, plafonne en toilet in ’n waardige tuiste vir waardige mense te omskep. Letterlik te omskep – vandaar die viervertrek-skakelhuis gevul met liefde, warmte en omgee. Soveel liefde, warmte en omgee dat dit die seer van toe soos mis voor die son laat verdwyn. Wat die kraak in die muur, die kleifondasies, sinkdakplafonne en buitetoilet in ’n spieël van onthou verander het en daarmee saam in ’n oorwinningslied bly voortleef.

Ek kan verstaan hoekom my pa so gesukkel het om uiteindelik sy afspraak met oom dokter na te kom. Wie sal dan nou sommer-so sy huisie met die kraak in die muur wil verlaat? Ek kan verstaan as my pa die operasie-gedoente so gou as moontlik agter die rug wil kry om weer die eenvoud van sy roetine en ritme verder te koester. Om in sy meer jare nog meer om te gee vir hulle wat aan hom goed bekend is of dalk nie bekend. Die vrede en vreugde van genoeg te hê van alles met almal om hom te deel. En die vakman met sy substandaard-bouplan nog ’n keer te omhels met die liefdevolle omgee en medemenslikheid wat so eie is aan hom.

En ek? Vandag is ek gemotiveer . . . deur die kraak in die muur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.