Min of meer elke Saterdag toe ons op skool was, het dieselfde ritueel hom afgespeel.
Die oom langs ons, wie se dogter ook in my klas was, sou sy grys Wolseley 16/60 uittrek. Dan is dit gewas en kon ons inklim vir die rit na die Tote. En dit het alles in derde rat geskied, want die oom het nie nut gehad vir die ander ratte nie, behalwe soms reverse.
Kort voor die Tote was so ’n stewige bultjie en die arme Wolseley moes maar klakke-klak-klakke-klak tot bo beur. Ons is nooit toegelaat om uit te klim nie, want dit was grootmensdinge daai. Die oom sou dan van sy rande op die perde gaan verwed. Ons het nie geweet dis dobbel nie. Mense het bloot gesê die oom sit geld op die perde.
Dit was natuurlik ’n kansspel in die hoop op wins, soos dobbel mos maar is. Vandag is dit ’n gans ander verhaal. Kinders ry nie meer in ’n buur-oom se Wolseley na die Tote nie. Nee wat, nou is dit sommer aanlyn.
Die Nasionale Lotery, of Lotto, het onlangs ’n paar mense so byna in hul Post Toasties laat stik toe vyf nommers in ’n ry – iets soos 7, 8, 9, 10 en 11 – uitgespoeg is. Die kans dat dít gebeur, is so te sê nul. Een slimme het laat weet altesaam 5,1 miljoen rye nommers is verkoop. Dit beteken as 20 mense daai kombinasie gehad het, was dit 0,0000039% van die gespeelde rye.
Altesaam 20 mense het reg geraai. Is dit nie vreemd nie? Soms gaan weke verby sonder ’n korrekte trekking of daar is maande met net een korrekte trekking. Nou skielik wen 20 mense! Ek ruik ’n rot.
Een ou het in Die Burger die lakonieke opmerking gemaak: “Wat my die meeste pla van hierdie hele storie, is dat ek al weer die verkeerde nommers gehad het.”
Dis ’n groteske denkfout as ’n mens sou reken jy koop 50 rye nommers, omdat jou kans om die boerpot te wen, dan 50 keer groter is as iemand wat net een ry koop. Dit maak maar weinig verskil. En die Lotto-mense weet dit. Hulle weet ook dis ’n belediging vir mense se intelligensie om hoegenaamd te dink hulle kan die boerpot wen.
Jare lank al vermoed ek die trekkings is nie ewekansig nie en die nommers word vooraf gekies na gelang van waar jou kaartjie gekoop is.
En ek besef ook ek bederf seker nou baie mense se pret, want die Lotto gee hulle hoop. Hulle kan na hartelus lugkastele bou oor wat hulle met ’n boerpot se wengeld sal maak. Ek moet bieg – ek het dit al self gedoen voordat ek behoorlik verstand gehad het.
Daardie lootjies by die kerkbasaar – is dit nie ook dobbel nie; ’n kansspel? En die lewe? Waag jou kanse en kyk wat jy daaruit kan kry.
Ons oom buurman met die Wolseley het nooit laat blyk as hy iets met die perde gewen het nie. Maar hy moes tog, anders sou hy seker nie aanhou probeer het nie. Wat ek met sekerheid onthou, was die kennisgewing teen sy houtwerkkamer se muur: “No gambling. Dobbel verbode.”