Almal is dalk Covid-19-voos, maar soms is alles net maanskyn en rose, veral as jy die volmaan op ’n heerlike someraand op die beeldskone Paarlberg van nader kan bekyk.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument nooi almal hartlik om die eerste volmaanpiekniek van die seisoen Vrydag 30 Oktober te kom vier.
Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig oor die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ’n simbool belaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing te verken terwyl kinders buitelug-speletjies kan speel en speelparke gebruik.
Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een by die Oppi Berg Mobile Café by 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier) te bestel. Onthou warm klere en ’n flits, asook jou masker (besoek www.taalmuseum.co.za/covid-19/).
Toegang beloop R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioentrekkers en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ’n 20%-afslag), wat toegang tot alle volmaanpieknieks insluit.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ’n nuwe of gebruikte kinderboek te skenk.