Die Suidoosterfees en Atlantic Studios laat die klassieke inryteater herleef.
Feesproduksies word van 4 tot 15 November in ’n splinternuwe baadjie geklee, en groter gehore kan vanuit die gemak en veiligheid van hul motors na feesaanbiedings op die silwerskerm kyk.
Produksies wat op die silwerdoek geprojekteer word, word opgeneem terwyl die kunstenaars op ’n buitelugverhoog optree. Inryteatergangers skakel op ’n FM-radiofrekwensie in om in hul motors na die klankbaan te luister.
Die geleentheid voldoen volledig aan vereistes ingevolge die nasionale Covid-19-gesondheids- en veiligheidsregulasies.
Volgens prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, is gehore uitgehonger vir teater- en musiekproduksies.
Die fees se inryteater bied ’n veilige uitlaatklep danksy die ondersteuning van borge en die samewerking met Atlantic Studios.
Jaco Loubser sê dié inisiatief is ’n alternatiewe opsie vir optredes en voorsien ’n inkomste aan kunstenaars.
Inryteatergangers kan ook uitsien na heerlike “roadhouse”-etes wat in die Kokkedoorstoor voorberei word.
Produksies om na uit te sien, is: Klopse Jol, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks, Lottering in Lockdown, Francois van Coke en Early B, Koortjies met Jonathan Rubain en Lag my kla. Die vier topverkopers vir Suidoosterfees, wat vroeër vanjaar as gevolg van die pandemie uitgestel moes word, was Kaapkreools, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks en Marc Lottering.
Gehore het nou die geleentheid om die produksies by die inryteater te geniet.
Die Adams-broers tree saam met ’n eg-Kaapse Maleierkoor, klopsegroep en ’n tienstuk-orkes op wat die voete sal laat jeuk in die produksie Klopse Jol! Die legendariese PJ Powers snoer talente saam met die Tygerberg-kinderkoor om ’n onvergeetlike musiek-extravaganza na die inryverhoog te bring. Feesgangers kan uitsien na treffers soos “Welcome to Africa”, “The right to learn”, “Jabulani”, “The world in union” en ’n massauitvoering van “Shosholoza”.
Gehore kan ook uitsien na ’n gesamentlike optrede van Francois van Coke en Early B, Suid-Afrika se bekendste rocker en rymkletser op een verhoog.
Gary Naidoo tree op in Die Variety Show that skriks vir niks, ’n vertoning wat die verhoog in ligte laaie laat opgaan met skreeusnaakse komedie en ’n jol soos net die Kaap dit kan doen. In Marc Lottering se produksie vertel die supergewilde grapjas van sy avonture gedurende die grendelstaat. Kom skaterlag saam vir sy weergawe van aanlyn vergadering en tuisonderrig. Lag my kla is die uitvloeisel van ’n aanlyn kompetisie wat van stapel gestuur is om nuwe komedie-talent te ontwikkel. Met dié projek van Son, kykNET en die Suidoosterfees het Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido nuwelinge se talent geslyp. Die wenners van 2020 se Lag my kla-kompetisie tree saam met hulle op.
Die eerste Afrikaanse gospel-televisiereeks, Koortjies met Jonathan Rubain, is een van die gewildste reekse nog op kykNET en Kie. Gaste wat in die reeks te sien was, kom byeen vir ’n aanskoulike verskeidenheidsvertoning by die inryteater.
Kaartjies kos R250 per motor en kan by Computicket bespreek word. Besoek die Suidoosterfees se webwerf www.suidoosterfees.co.za vir inligting.