Die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel-stigting en NB-uitgewers bederf boekwurms op 13 en 14 November met ’n uitstekende skrywersprogram.
Die jaarlikse Jakes Gerwel-gesprekke word gratis by kykNET Atlantic Studios aangebied en spog met gunstelinge soos Deon Meyer, Antjie Krog, Diana Ferrus, Dana Snyman en Ryan Pedro.
Deon Meyer praat met Elna van der Merwe oor sy nuwe trefferboek, Donker drif, en Dana Snyman gesels met Erns Grundlingh oor sy 100 gunstelingstories wat in die bundel Onder een dak opgeneem is. Nuwe lig word gewerp op die verhaal agter Nelson Mandela se vrylating in ’n gesprek tussen Riaan de Villiers en Jan-Jan Joubert. Vir die boek Prisoner 913 het die skrywers Riaan de Villiers en Jan-Ad Stemmet in voorheen geheime rekords oor die oudpresident gedelf.
Ivor Swartz se aangrypende verhaal, Die verlore seun vannie Gaatjie, kom onder bespreking wanneer die skrywer deur Frazer Barry uitgevra word. In Vers en vrou kom van Afrikaans se gewildste digters byeen om te gesels en voor te lees. Digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus, Shirmoney Rhode en Truise Prinsloo word deur die uitgewer Nèlleke de Jager oor die bloemlesing Vers en vrou gepols. Ryan Pedro, wie se debuutbundel ,Pienk ceramic hondjies, groot opspraak verwek, is ook aan die woord. Die jongspan sal gaande wees oor Rafiek Mammon se Faizel en die sterre. Dié hartroerende verhaal gaan oor ’n seuntjie wat sy pa en die lewe met moeite in die oë kyk omdat hy “anders” is.
Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer en Tracy Going gee hul menings oor die gewraakte Covid-19-pandemie wat die hele wêreld op sy kop gedraai het. Hul boek Lockdown Collection kyk na die emosionele, spirituele en selfs humoristiese aspekte van die gevreesde pandemie.
Willem Anker, wat onlangs op die lys van die gesogte Bookerprys was, kom praat oor sy jongste roman, Skepsel. Tertius Kapp vra Anker uit oor die boek wat deur kritici hoog aangeprys word. Gesprekke is gratis, maar sitplekke is beperk. Bespreek by Francois.Abrahams@media24.com. Program: www.suidoosterfees.co.za.