Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Zamudio: ‘Goud is my woorde’

Jennifer Zamudio het onlangs haar twaalfde album vrygestel en hierdie Afrikaanse CD met veertien liedjies beloof om ’n groot sukses te wees.

Dié Velddriwwer het geen bekendstelling in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nodig nie en as daar een ding is wat hierdie dinamiese sangeres nog altyd baie goed reggekry het, is dit om haarself en die musiek wat sy maak, keer op keer te vernuwe en om elke keer met ’n splinternuwe, vars produk vorendag te kom.

Sy ken haar mark en haar mense en het nog altyd haar vinger op die pols gehad wat haar musiek betref.

Haar jongste album, Goud Is My Woorde, gaan sonder twyfel weer ’n sukses wees en ’n breë mark sal daarby aanklank vind.

“As ’n onafhanklike kunstenaar in ’n bedryf wat so vinnig groei en verander, moet jy jouself die hele tyd aanpas en vernuwe. Ek glo hierdie album pas perfek by die hedendaagse musiekneigings en -behoeftes.

“Ek het baie jong musikante gebruik om my met die album te help en ek is baie trots op die eindproduk. Dis modern, in pas met die hedendaagse klanke en steeds heerlike lekkerluister-musiek,” sê Jennifer.

Die album Goud Is My Woorde is Jennifer se 12de en sy is hierdie jaar reeds 18 jaar in die musiekbedryf werksaam.

Een van die mees onlangse hoogtepunte van haar sangloopbaan is die Ghoema-prys wat sy verlede jaar vir haar Country-album ontvang het.

“Daar is ’n goeie balans op die album en die genre wissel tussen popmusiek en kontemporêre musiek. Ek glo mense se ore moenie moeg raak wanneer hulle na ’n liedjie luister nie en daarom is elke liedjie op hierdie album lekker om na te luister.

“Ek het maar nog altyd ’n sagte plek vir ’n mooi melodie en ek hou van liedjies met musikale melodieë. Deesdae raak ’n mooi melodie so maklik verlore, maar ek hou van musiek wat sterk gedrewe en kragtig is,” sê Jennifer.

Buiten die vyf liedjies op die album wat uit Jennifer se eie pen gevloei het, is die liedjie Goud Is My Woorde spesiaal deur Rudi Claase vir die album geskryf. Hierdie liedjie weerspieël letterlik Jennifer se hele loopbaan tot dusver.

Die meesleurende Tot Die See Opdroog is ’n liedjie wat Jennifer spesiaal vir haar pa geskryf het ná sy dood en baie mense sal hulle met hierdie lied kan identifiseer.

Jennifer het Anneli van Rooyen se treffer Ek glo pragtig verwerk en sy is vir seker een van die min dapper vroue wat al haar hand aan ’n Neil Diamond-liedjie gewaag het. Haar weergawe van sy bekende “I am I Said”gaan gewis ook aftrek kry.

Die duet saam met Juandre Marais “Gee Jou Liefde Net Vir My”is nog ’n hoogtepunt op die album.

Jennifer is een van die kunstenaars in Suid-Afrika wat steeds gereeld optree en konsert hou en ondervinding het haar geleer dat om te toer die doeltreffendste manier is om haar musiek by mense en haar aanhangers te kry.

Sy lewer gereeld vertonings en hoewel dit harde werk is, het dit haar nog nooit afgeskrik nie.

Ná byna 20 jaar in die bedryf, is sy steeds mal oor haar werk.

“Dis regtig nog altyd vir my lekker om te kan sing en ek beskou dit as ’n voorreg dat ek my passie kan uitleef en elke dag iets kan doen waarvan ek regtig baie hou.”

. Die CD-bekendstelling word

Vrydag 24 Augustus by die Riviera Hotel in Velddrif gehou. Die vertoning begin 20:00 en kaartjies kos R120 per persoon. Besprekings kan by 022 783 1137 gedoen word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.