Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Aanklaer (47) verloor stryd teen kanker

Die welbekende staatsaanklaer van Worcester, Neville Simpson (47), het die afgelope week sy stryd teen kanker verloor.

Simpson was 19 jaar lank ’n staats­aanklaer by die Worcester-landdroshof en het die gemeenskap met passie en toewyding gedien.

“Ons pa was ’n mensemens. Sy hart en deur was altyd oop vir mense – ongeag die situasie waarin hy homself die afgelope twee jaar bevind het.

“Daar was vir hom geen onderskeiding tussen mense nie en hy het almal dieselfde behandel,” sê sy verslae seun, Neshwille Simpson.

Simpson sal onthou word vir sy passie vir sy werk en dat hy altyd die ekstra myl vir sy kliënte geloop het. Hy het hard gewerk sodat reg en geregtig­heid kan geskied.

“Hy het selfs ons vriende se kinders behandel soos sy eie en hy was lief om met die inwoners te gesels.

“Dit was partykeer nie lekker om saam met hom winkel toe te gaan nie omdat hy ure lank met mense gesels het.

“Almal wat ons pa geken het, weet hy het ’n hart van goud gehad.”

Simpson word deur sy familie as ’n gesinsman beskryf wat daarvan gehou het om tyd saam met sy familie deur te bring. Sy werk was vir hom ook ’n groot passie.

“Hy was die wonderlikste man en liefde het uit hom gestraal. Ek sal altyd sy glimlag koester en ek gaan hom baie mis. Hy het altyd vir my op die hande gedra en het uit sy pad gegaan om vir my die beste te gee.

“Ek gaan sy soen­tjies en drukkies wat hy altyd vir my gegee het baie mis,” sê sy vrou, Shane Simpson.

Kolonkanker is twee jaar gelede by Simpson gediagnoseer en dit was ’n groot skok vir die familie.

Sy familie noem dat hulle almal deur die stryd saamgestaan het en dat hy nooit deur die bestraling gekla het nie.

“Hy het maar stil-stil sy lot verduur en dit nie graag met ander gedeel nie omdat hy nie deur sy siekte gedefinieer wou word nie,” sê Neshwille.

Simpson word deur sy kinders as ’n liefdevolle pa beskryf wat nooit streng was nie, maar hulle het geweet hoe ver hulle hom kon druk.

Hulle sal sy raad die meeste mis.

“Hy het ons geleer dat ons na hom toe moet kom vir antwoorde en hy het altyd die beste raad vir ons gehad.” . Neville Simpson word Saterdag 4 April om 10:00 uit die VGK Worcester-Suid begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.