Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Abet: salarisprobleme sleep voort

Geen einde is steeds in sig vir personeel by gemeenskapsleer­sentrums (Abet) wat betref probleme met hul salarisse nie.

Standard het op 20 Mei (“Onnies wag nog vir April-salaris”) berig oor die Worcester-gemeenskapsleer­sentrum – algemeen bekend as Abet – se bestuurder, Ellen Botha, en haar kollegas wat nog nie hul April-salaris van die departement van hoër onderwys en opleiding ontvang het nie.

Die gemeenskapsleersentrums sukkel steeds met probleme met hul salarisse en sê die departement van hoër onderwys en opleiding hou nie by sy skriftelike beloftes nie.

Volgens Botha is al haar personeel vir Mei betaal, maar hul salarisse was aansienlik minder as voorheen.

“Ons sit met een onderwyser wat op ’n standaardiseringsproses is en haar salaris was die helfte as normaalweg. Hulle het aan ons gesê ons salarisse sou beter wees, maar van die mense se salaris is minder en ander is nog Maart en April se salaris verskuldig,” sê Botha.

Sy sê hulle het geen duidelikheid oor wat presies aangaan nie.

“Ons hou elke keer vergaderings, maar niks kom van besluite nie. Ons is nou keelvol vir die leë beloftes,” sê Botha.

Johan Vermaak, sentrumbestuurder by die Delft- en Wesbank-gemeenskapsleer­sentrums, sê: “Op die oomblik het ons geen uitstaande salarisse by ons sentrum nie, maar dit is vir ons ’n probleem dat ongelooflik baie beloftes aan ons gemaak word. Ek verstaan dat dit ’n aanpassing is in terme van standaardisering, maar van die mense is eers verlede maand hul salaris vir April betaal.

“Hulle gee vir ons skriftelike ondernemings, maar hou nie daarby nie,” sê Vermaak.

“Ek is al 28 maande in die pos as waarnemende sentrumbestuurder, maar ek het nog nie een keer die salaris gekry wat aan my beloof is nie. Sekere finansiële beloftes is aan my gemaak met betrekking tot my salaris, maar dit is nog nie nagekom nie. Ek kry steeds die salaris van ’n lektor terwyl ek nou die bestuurder is. Ek is veronderstel om amper R10 000 meer te kry,’’ sê Vermaak.

Carlene Swartz, sentrumbestuurder by die Eden-en-Karoo-distrikleersentrum, sê by haar sentrum is een personeellid nog April se salaris verskuldig en twee Mei se salaris.

“Hulle gee nie vir ons die inligting volledig of reg deur nie, wat ons as sentrumbestuurders swak laat lyk, want ons kan nie na ons personeel gaan met definitiewe antwoorde nie,” kla Swartz.

“Ek wil by hulle weet of ons terugbetaling gaan kry vir die maande waarin ons slegs die helfte van ons salaris gekry het,” voeg Swartz by.

Vermaak, Swartz en Botha sê van die mense wat wel hul salaris gekry het, kla sommige het slegs die helfte uitgekry.

Beide Botha en Swartz verduidelik dat ’n lys van die personeel wat nog nie betaal is nie, Dinsdagoggend 8 Junie gestuur is, maar hulle het nie vaste datums gekry vir wanneer hulle wel hul salaris kan verwag nie.

“Van die mense wat nog agterstallige salarisse verskuldig is, is nog nie eens op die lys nie,” sê Botha.

In ’n vergadering tussen sentrumbestuurders en die departement van hoër onderwys op 28 Mei, het personeellede ’n prioriteitslys aan die departement oorhanding waarin hulle die departement vra om binne sekere sperdatums te reageer.

Een van die versoeke is dat die departement alle uitstaande betalings vir Februarie, Maart en April onmiddellik vereffen en dat alle betalings teen 31 Mei in die personeel se rekeninge moet verskyn.

Maandag 7 Junie het die Worcester-gemeenskapsentrum se menslikehulpbronbestuurder ’n brief aan Venecia Kruger – wat by die departement van hoër onderwys werk – gestuur waarin hy noem dat van die personeel op die lys van dié is wat nog geen betaling vir April ontvang het nie. Volgens die brief is personeel op 28 Mei se vergadering belowe dat alle mandate na die finansiële departement gestuur is om betaling te bewerkstellig.

“Tot op hede is geen transaksies op die Persal-stelsel gelaai nie.”

Die brief gee die departement van hoër onderwys tot 19 Junie om te reageer.

Die versoeke van gemeenskapsleersentrums het op dowe ore geval, sê Botha.

Standard het probeer kontak maak met Venecia Kruger en dr. Bheki Mohlobo, die waarnemende adjunk-direkteur-generaal vir gemeenskapsonderwys en -opleiding, maar hulle was nie beskikbaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.