Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
All Blacks kan dankbaar wees Covid-19 ‘red’ hulle

Rugby was in die aanloop tot die afskop van die wêreldbekerrugby-toernooi op 20 September verlede jaar lank op almal se lippe.

Hoe gaan die Springbokke vaar? Watter span gaan op 2 November die William Webb Ellis-trofee omhoog hou?

En in Februarie vanjaar het ons nog uitgesien na ’n opwindende rugbyseisoen. Die Springbokke sou oormôre (Saterdag 5 September) in ’n wegwedstryd teen die All Blacks kragte gemeet het. Verlede Saterdag sou hulle teen Australië te staan gekom het.

Op 19 September sou hulle op Loftus Versfeld in Pretoria die tuisveldvoordeel teen Australië gehad het. Rugbyliefhebbers sou bespiegel het oor die Australiërs se kanse om die manne in Groen-en-Goud die eerste keer nog op Loftus Versfeld te klop.

Geskiedenis sou op 26 September gemaak word wanneer die All Blacks die heel eerste keer in Nelspruit teen Suid-Afrika gespeel het.

Dan was daar ook nog die “Vaarwel aan Nuweland”-kragmeting tussen Suid-Afrika en Skotland op 4 Julie.

Dit is ook van die baan.

Ja, het my pêl Piet nog in Maart vanjaar gesê, die organiseerders wou seker maak Suid-Afrika neem op ’n hoë noot afskeid van Nuweland – dís hoekom Skotland as teenstander gekies is. Suid-Afrika het immers op 5 September 1891 die eerste toets nog op Nuweland met 0-4 teen die Britse Leeus verloor.

Deesdae praat mense maar oor drie ander gunsteling-onderwerpe: braai, wyn en die weer.

Met die snerpende koue wat ons die afgelope tyd beleef het, is dit moeilik om te glo dat dit eergister Lentedag was. Die naweek se sneeu lê dan nog op die berge.

Ons hoop en vertrou die weer gaan darem Donderdag 24 September saamspeel – dit is die 15de agtereenvolgende jaar dat nasionale braaidag op dié dag gehou word. Mense is nog vuur en vlam oor dié dag.

Die feit dat 24 September ook Nasionale Erfenisdag is, is byna ’n bysaak. Aangesien die openbare vakansiedag op ’n Donderdag is, gaan talle die Vrydag verlof neem en vir die naweek ’n bietjie wegbreek.

Maar braai gaan gebraai word, of dit nou tuis of langs die see is.

Ten slotte wil ek graag geluk sê aan drie plaaslike kelders wat onder die 20 finaliste in die 2020 Absa Top-10-Pinotage-kompetisie is. As my geheue my nie in die steek laat nie, is dit die eerste keer in die 24-jarige bestaan van die kompetisie dat dit gebeur.

Die plaaslike finaliste is Gert van Deventer en Chris Geldenhuys van Aan de Doorns-kelder se 2018-Pinotage en die 2019-Pinotage van Conradie Family Vineyards, waar CP Conradie wyn maak.

Fred Viljoen se Viljoensdrift River Grandeur Single Vineyard Pinotage 2018 is die enigste wyn van die Robertson-streek wat die Top-20 gehaal het.

Die Top-10 word oudergewoonte op 10 Oktober, op Internasionale Pinotage-dag, bekend gemaak.

Ons hou saam met die kelder se personeel duime vas!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.