Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Appels wild langs derby se veld geswaai
06 September 2018

Die appels is die afgelope naweek lelik in een van die voorwedstryde van die land se grootste klubrugby-derbies tussen Worcester Villagers en Young Hamiltons geswaai.

Vyf minute voor die eindfluitjie vir die derdespanwedstryd het van die twee klubs se derdespanspelers asook sekere bestuurslede mekaar glo getakel.

Stephan Neethling, Villagers se fotograaf, sê hy was op die bult by Bolandpark toe hy hoor hoe die skare skree.

“Ek het gesien hoe die spelers mekaar gryp waar Villagers se derdespanreserwes sit. Ek het foto’s geneem van dié petalje wat voor my afspeel. Ek het ’n Young Hamiltons-beampte afgeneem wat deur sy eie spelers voorgekeer word. Die beampte het glad nie magtiging vir toegang tot die speelveld gehad nie, maar het op die een of ander manier verby die sekerheidsbeamptes geglip,” sê Neethling.

Japie Visser, Young Hamiltons se wedstrydsekretaris, sê hy het albei spanne se afrigters gevra om die spelers wat by die bakleiery betrokke was, van die veld af te haal.

“Die afrigters wou die wedstryd voltooi en geen spelers is van die veld gehaal nie. Al wat ek kan sê, is ons C-span was die beste span op daardie veld. Die skeidsregter het halftyd met die afrigterskeidsregter op aandrang van die A-span se skeidsregter gepraat omdat hy seker was die wedstryd sou in ’n bakleiery ontaard. Die skeidsregter het egter voortgegaan om sleg te blaas,” sê Visser.

Jason Basson, Villagers se derdespankaptein, sê sy span was op die aanval voordat sy vleuel deur ’n Hamiltons-speler uitgeduik is.

“Die bakleiery het uitgebreek net toe die vlagman sy vlag opsteek. Een van Young Hamiltons se spanbestuurders het op die veld gestorm en aan ons spelers begin pluk. Ek het probeer keer, maar toe trap ek in die sloot tussen die tartanbaan en die rugbyveld en gly en val. Toe ek op die grond lê, het die man, wat ek net as ‘Tyson’ ken, my tussen my skouer en nek geskop. Ek het my manne ná die bakleiery gemaan om nie so laag te daal en te baklei nie,” sê Basson.

Standard het Young Hamiltons se bestuur en mediaskakelbeampte genader om vas te stel wie dié Tyson is, maar talle lede van die klub het gesê hulle “weet nie wie hy is nie”.

John Vergotine, Villa se voorsitter, het bevestig dat hy op die veld gehardloop het. Hy sê hy het sy plig as voorsitter van die tuisklub nagekom deur die bakleiery te probeer keer.

“Op die foto’s kan jy sien hoe ek die bakleiery probeer keer. Sowat 10 000 mense het gesien ek het die hele tyd probeer keer. Een van Young Hamiltons se spanbestuurders het die speelveld sonder toestemming betree en ek het hom gevra om die veld te verlaat, want hy hoort nie daar nie,” sê Vergotine.

“Volgens Villagers se veiligheidsplan, wat aan Hammies voorgelê is, kon slegs een spanbestuurder van elke span binne die speelgebied toegelaat word. Dié ‘Mnr. Tyson’ was die tweede spanbestuurder en was glad nie gemagtig om die speelgebied te betree nie,” sê Neethling.

Volgens ’n anonieme bron het “Tyson” glo opgehardloop nadat Villagers se voorsitter reeds op die veld was.

Edson Martinus, wat ook by Young Hamiltons betrokke is, het op sy Facebook-profiel ’n status gelaai met verskeie foto’s van die bakleiery.

Hy sê: “Hier is die bewyse. Kyk maar self, manne. Iemand het vroeër aan my genoem dat die man met die wit pet al voorheen so hardhandig met ander klubs se mense gewerk het. Ek kan nie sê nie; dis maar wat ek hoor. Ons word verskriklik beskuldig van ‘skollies’ en dat ons ‘rou maniere’ het. Ja wat, die Bybel praat van die balk in jou eie oog sien.”

Die man met die wit hoed na wie Martinus verwys, is Vergotine wat midde in die bakleiery op die veld gehardloop het. “Edson van Hammies sal van my prokureur hoor, want dis die tweede keer dat hy my wil swartsmeer met leuens,” sê Vergotine.

Jaco van Wyk, kommunikasiebeampte van Boland-rugbyunie, het bevestig dat die voorval nog nie by die unie aangemeld is nie.


. Die eindtelling van die wedstryd tussen die twee derdespanne was 16 vir Villagers en 10 vir Young Hamiltons.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.