Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Arm ‘morsaf’ toe winkelrak val

’n Sesjarige van Ashton is erg getraumatiseer nadat sy haar arm gebreek het terwyl sy saam met familielede in ’n bekende winkel in Robertson was en een van die rakke op haar neergetuimel het.

Biané Mouries (6) was verlede week Dinsdag (3 November) omstreeks 11:00 saam met haar ouma, oupa en ma in ’n supermark toe haar ma die winkelwaentjie eenkant geplaas en Biané ook uit die pad laat staan het.

“My vrou het vir ’n paar sekondes omgedraai om iets van ’n ander rak af te haal toe sy ’n helse slag hoor, gevolg deur my dogtertjie wat huil. Die een rak het op haar geval en haar regterarm is morsaf gebreek,” vertel haar pa, Ryno Mouries.

Biané is dadelik na die plaaslike hospitaal in Robertson geneem waarna dokters gesê het haar arm is gebreek en sy sal behandeling moet ondergaan.

“Ek was by die werk besig toe ek ’n oproep van my vrou af kry. Soos sy die nuus aan my breek onthou ek net hoe ek klein Biané die oggend voordat hulle gery het, nog ’n soentjie gegee het. Ek het dadelik van Ashton af gery. Ek kan nie eens onthou wat in daardie tyd deur my kop gegaan het nie,” vertel ’n emosionele Ryno aan Standard.

Die besering aan Biané, wat nou weke lank buite aksie is en sukkel met pyn, druk swaar op haar ouers se harte.

“Niemand wil hul kind in pyn sien nie. Dit is vir ons albei baie erg, maar sy is ’n sterk kind. Nadat die dokter haar behandel het, het sy nog die woorde ‘job well done’ gesê en net geglimlag.”

Dit is egter die emosionele trauma wat haar vang.

“Die pyn is erg en ons probeer haar help waar ons kan. Ons hoop en bid net dit heg reg aan, anders sal die dokters die armpie weer moet breek om te heg. Sy het aan haar onderwyseres gesê sy wil nooit weer in ’n winkel ingaan nie en raak histeries as ons nou naby een kom.

“Ons sal sielkundige hulp moet inwin om haar deur hierdie situasie te probeer help,” verduidelik Ryno verder.

Hy sê wat hom die meeste pla, is die manier waarop die winkelgroep die situasie hanteer het.

“Ek het dit met die bestuur opgeneem en gevra vir twee goed – eerstens die beeldmateriaal van die voorval, en tweedens ’n ongeluksverslag waarin hulle die voorval in hul winkel aanmeld. Laasgenoemde is nie eens ingevul of tot ons beskikking gestel nie en die beeldmateriaal word ook van ons weerhou, want hulle voer aan ons het nie die nodige toestemming nie.”

Hy sê verder die gesprek tussen hom en die bestuur het suur geëindig en hy is sleg behandel.. Navrae is deur amptelike kanale aan die winkelgroep se bestuur gerig, maar teen druktyd is geen terugvoer nog ontvang nie. Standard het ook telkemale na die winkel self probeer uitreik, maar oproepe is óf onbeantwoord gelaat óf afgesny wanneer ons verslaggewer gevra het om met ’n bestuurder te praat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.