Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Baanbreker in wynbedryf dood

Die bekende Slanghoekvallei-boer en ’n stigterslid van Vinpro, Pieter Hugo, is op 10 Julie aan longfibrose oorlede.

“Pieter was een van die mees gerespekteerde produsente in die bedryf wat met sy siening van sake ’n voorbeeld gestel het en juis nie net gepraat het nie, maar ook gedoen het. Hy laat diep spore as visioenêre leier, mentor en vriend,” sê die Vinpro-voorsitter, Anton Smuts. “Ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en bondgenote.”

Nadat hy ’n B Sc-landbou-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, het hy na hul familieplaas in die Slanghoekvallei teruggekeer waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het onder die mentorskap van sy pa, die voormalige KWV-voorsitter Pietman Hugo.

In die jare tagtig het hy en sy gesin na die ou familieplaas Hugoskraal verhuis en het hy oor die jare nog ’n aantal plase in die Breedekloofvallei bekom wat vier van sy vyf seuns onder sy mentorskap oorgeneem het.

In sy meer as 40 jaar in die wynbedryf het Pieter in verskeie direksies gedien, onder meer die Breërivier-botteleringsmaatskappy, KWV, Arbelos-wyne en Botha- en Slanghoek-kelders. Hy het ook holisties gedink, wat weerspieël is in sy betrokkenheid by direksies en rade van die Wes-Kaapse en Suid-Afrikaanse landbou-unies, provinsiale en nasionale watersake-komitees en die destydse koöperatiewe wynkelderskomitee.

Maar Pieter het ’n nóg belangriker pioniersrol in Vinpro se geskiedenis gespeel as lid van die adviesraad wat in 2002 getaak was om Vinpro tot stand te bring. Ná sy uittrede as lid van die Vinpro-direksie, uitvoerende raad en finansiële komitee in 2014, is hy in 2018 as ’n erelid van Vinpro vereer vir sy wesenlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Pieter het die binnewerkinge van die wynbedryf geken en verstaan en altyd die primêre produsent se saak eerste gestel. Hy was ’n man van min woorde wat eers alle standpunte uitgeluister en erkenning gegee het aan elkeen, maar wanneer hy sy weldeurdagte insette gegee het, het dit ’n groot indruk gelaat,” sê Anton. “Ons sal hom werklik mis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.