Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Begraafplaas se toestand is haglik, haweloses ‘trek in’

“ ’n Begraafplaas is veronderstel om ’n plek te wees waar jy jou laaste rus sal vind; waar die oorblyfsels van jou aardse lewe sal agterbly en waar familie en vriende jou lewe kan herdenk en weer na aan jou menswees kan kom. Maar waarheen is ons op pad as dinge so lyk?”

Só sê Fonnie Watermeyer (83), wat al bykans ses dekades lank in Villiersdorp woon en gereeld sy ma se graf in die begraafplaas besoek.

“Ek onderhou self die graf en kyk dat niks daarmee gebeur nie. Dit is moeilik om hier te loop en nie te wil huil nie. Die grafte is vuil en beskadig deur die wind, weer en boemelaars. Gemors is orals gestrooi en van die grafte se stene is afgebreek. Party het net ’n tuinklip of drie op en ander is ongemerk en onuitkenbaar – dit is hartseer,” sê Watermeyer.

’n Gedeelte van die begraafplaas is in puin gelaat met rommel en gebreekte grafte, maar inwoners vertel dat haweloses hulle daar tuismaak en dat dit ’n broeiplek vir dwelms geword het.

“Ek is te bang om alleen soontoe te gaan. Dit is vuil en dit maak my naar. Die veiligheid is ook ’n groot probleem. Ek het nie ’n probleem met hawelose mense nie, maar dit voel of ’n mens se lewe bedreig word as jy daar instap,” vertel Sara Cilliers, Watermeyer se buurvrou.

Johan Rousseau van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Hervorming in die Begrafnisbedryf (Fira) sê: “Daar is geen behoorlike sekerheidsmaatreëls in plek nie en ons vra onsself: ‘Wat beteken die miljoene der miljoene rande wat die publiek betaal met die aankoop van grafte, of vir krematoriums, om na begraafplase en krematoriums om te sien?’ Nou is daar regdeur Suid-Afrika die minimum beheer en toesig. Dit is hartseer om te sien dat die minimum nie eers gedoen kan word nie. Die plaaslike regerings, tesame met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) moet onmiddellik begin luister en werk maak van hierdie krisis.”

Volgens die Theewaterskloof-munisipaliteit se woordvoerder, Hugo Geldenhuys, is die publiek self verantwoordelik vir die onderhoud van grafte. “Die owerheid is wel verantwoordelik vir die instandhouding van die terrein. Munisipale wetstoepassing is verantwoordelik vir orde en sekuriteit, maar die munisipaliteit het nie genoeg kapasiteit om [personeel] na begraafplase te ontplooi nie. Begraafplase is gemeenskapsbates en die gemeenskap word aangemoedig om dit te beveilig.”

“Ons kort iemand wat intree en verantwoordelikheid neem. Al gee hulle net wagte en begin om die grafte skoon te maak,” sê Watermeyer. “Baie mense se families is oorsee of bly ver en besoek nie die grafte gereeld nie. Hulle sal geskok wees. Bo en behalwe dít, bewys dit dat daar nie respek is vir die dooies nie. Dit moet opgelos word.”

Enigiemand wat raad van Fira nodig het of voorvalle wil aanmeld, kan e-pos vir Johan Rousseau stuur by legal@fira.org.za. Daar is ook advies en die bespreking van soortgelyke sake op Fira se Facebookblad, FIRA Media.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.