Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bekende argitek sterf

Die befaamde plaaslike argitek Alewyn van Houwelingen (95) is Maandagoggend 29 Oktober ná ’n kort siekte in die hospitaal oorlede.

Van Houwelingen sal deur Worcesteriete as die regop, sjarmante man met die spierwit hare onthou word.

Wyle Alewyn van Houwelingen

Hy het tot op 95 nog elke dag die blokkiesraaisels in die Afrikaanse en Engelse koerante getrou saam met sy vrou, Bé, ingevul. Sy oë het so verswak dat hy dit later met ’n vergrootglas moes doen.

Van Houwelingen het ná die Tweede Wêreldoorlog saam met sy pa, Jantjie, argitektuurplanne ontwerp. Hy het geen universiteitsopleiding gehad nie, maar het hom met sy briljante brein op eie houtjie vir die beroep bekwaam. Sy kantoor, vol bouplanne, was vir jare op die tweede vloer van Jaffe’s Ford. Hy is deur die Suid-Afrikaanse Raad vir die Argitektuurprofessie as argitek erken en die dik fotoalbum met foto’s van geboue wat hy en sy pa ontwerp het, getuig daarvan. Benewens wonings het hulle ook wynkelders, motorhawens, sakegeboue en kerke ontwerp.

Ander sal hom onthou vir die modelvliegtuie wat hy met akkuraatheid gebou en op die vliegveld gevlieg het.

Hy en sy vrou het ’n ongeskrewe ooreenkoms gehad – vir elke antieke meubelstuk wat sy koop en versamel, het hy het hy ’n nuwe vliegtuig by Chris Sweatman in die Kaap gekoop.

Die huis waarin hulle die afgelope 63 jaar woon, is gevul met verskeie antieke meubelstukke en modelvliegtuie.

Hy het ’n passie vir operette, musiek en gedigte gehad. Tot op sy sterfbed kon hy nog lang gedigte met gevoel voordra.

Van Houwelingen was ’n diep denker wat selde aan ligsinnige praatjies deelgeneem het. Hy het graag oor die Tweede Wêreldoorlog, toe hy saam met sy pa en suster ná ’n besoek aan Holland vasgekeer was, gepraat. Dié ervaring as tiener het ’n groot uit­werking op sy sienswyse in die lewe gehad.

Vroeër jare kon ’n mens hom gereeld saans met ’n flits in die tuin aantref waar hy na sy geliefde verkleurman­netjies gesit en kyk het. Dié klein, weerlose wesentjies was vir hom baie spesiaal.

Hy het ’n goeie sin vir humor gehad.

Hy word oorleef deur sy vrou, vier kinders, drie kleinkinders en ’n agterkleinkind.

.Die roudiens is Saterdag 10 November 11:00 by die NG kerk Audenberg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.