Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bekende in politieke en fietsrykringe sterf

’n Bekende in politieke kringe en uithaler-sportman van weleer, die 64-jarige Anwar Ismail, is Woensdag (9 Junie) onder blyke van groot belangstelling vanuit sy ouerhuis in Parkerstraat volgens Moslem-tradisie begrawe.

Hy was die oudste seun van wyle Essop Ismail en sy vrou Miriam. As jong man het hy hom bekwaam as spesialis-opvoeder aan die destydse Hewat-opleidingskollege in Athlone. Hy het onder meer by Riverview Primêr, Victoriapark Primêr asook verskeie skole in en rondom Kaapstad skoolgehou, voordat hy hom daarna voltyds in die politiek begeef het.

Sy politieke loopbaan het egter reeds met die leiding van sy oorlede pa – wat deel was van die belastingbetalersvereniging en later ook die Arbeidersparty, voordat hy hom in die destydse driekamerparlement bevind het – begin.

Anwar was op kollege gou-gou by studente-aktiwiteite betrokke en was een van die voorbokke tydens die 1976-onluste op kampus. Soveel sò dat hy later in hegtenis geneem en opgesluit is in Pollsmoor en later ook in Victor Verster-gevangenis. Hy word later opgeneem in die parlement as LP vir Worcester en doen baanbrekerswerk op verskeie terreine tot voordeel van sy gemeenskap.

Wyle Anwar Ismail

Anwar was ‘n skitterende fietsryer in sy jong dae en lid van die Proteas-fietsryklub in Worcester. Die klub het veral in die 1970’s en ‘80’s die sportsoort plaaslik tot groot hoogtes gelei en skares in vervoering gehad.

Hy het Boland saam met onder andere sy broer Ceraj verteenwoordig en is later as SA kampioen gekroon.

Volgens Charles Beukes, lid van Fietsry SA se nasionale bestuur, was Anwar een van Suid-Afrika se beste junior fietsryers in die 1970’s en het hy verskeie provinsiale Boland-titels asook nasionale medaljes verower. Sy oorlede vader was lank ‘n nasionale uitvoerende bestuurslid van die SA Fietsry-assosiasie, SACA.

In 2015 is Anwar en Pierre Leukes, ’n oud-administrateur van SACA, deur William Newman – toe president van Fietsry SA – genooi om te dien in ‘n kommissie wat die toekenning van erekleure aan nasionale presteerders onder die destydse SACOS-beheerliggaam vir nierassige sport moes aanbeveel.

Volgens Beukes beskou hy Anwar as ‘n baie toegewyde kompeteerder op die fiets en betreur hy sy dood. Dit omdat hy nou ook, soos talle ander, waaronder Boet en Jackson Jantjies van die Paarl – nie die voorreg gaan hê om in lewe die erkenning van nasionale kleure te ervaar nie.

Anwar se ander liefde was swem en hy was nie net ‘n skitterende swemmer nie, maar het ook sy provinsiale kleure in hierdie sportkode verwerf.

Anwar, wat die afgelope ruk met sy gesondheid gesukkel het, is op 9 Junie in ‘n Kaapse hospitaal aan vermoedelik nierversaking oorlede nadat hy kort tevore daar opgeneem is.

Hy laat naas sy bejaarde moeder ook sy twee broers, die bekende sakemanne Ceraj en Nizam, agter; sy vrou Isherene, asook twee dogters en twee seuns. Sy broer Ceraj dien sedert 1994 ononderbroke as raadslid, terwyl Nizam ook al ‘n termyn as raadslid agter die rug het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.