Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Betaal dié boete of gaan tronk toe

’n Rommelversamelaar het ’n groot boete ontvang toe hy, soos gewoonlik, items uit vullissakke in Fairway Heights verwyder het.

Kevin Carolus (35) staar nou die nare realiteit in die gesig om ’n skulderkenningsboete van R300 te betaal of drie maande tronkstraf uit te dien.

Met die verfrommelde en natgereënde boetekaartjie in sy hand staar Carolus voor hom uit terwyl Standard met hom gesels.

“Ek doen die ding van vullis uitsoek by myself. Ek kom soms by asblikke dan kom daar ander hawelose mense ook aan. Almal is haweloses; hulle het nie huise nie. Op Woensdae is dit vullisverwyderingsdag in Fairway Heights en Panorama. Dan soek ons in die vullisdromme, want die mense daar bo gooi goeie goed weg – waardevolle items wat ons weer kan gebruik. Ons gee dit dan in vir geld en kos. Dis ons oorlewing,” sê Carolus.

Op 20 Junie, ’n doodnormale Woensdag, was Carolus besig om saam met ander rommelversamelaars in ’n drom te krap toe ’n BVM-verkeersman verby hulle ry.

“Hy het ons gevolg asof ons skelms is; asof ons wil oorklim en mense beroof, maar ons is nie daar om te steel nie. Ons is daar om waardevolle items uit die vullis te haal.”

Hulle is deur die verkeersbeampte na Mastersweg geneem. Hy het glo gesê hulle gaan boetes kry.

“Iemand het seker gekla en gesê dat ons elke week daar is en hul huise deurkyk van die buitekant af. Hy het toe vir ons al drie wat besig was om deur die vullis te grou, met R300 beboet.”

Die polisie was ook by toe die boetes uitgeskryf is.

“Ons het in ’n ry gestaan en die manne het elkeen gewag vir die boete wat elkeen moes teken. Ek moes my eie handtekening maak; ek kon nie weier nie. Die verkeersbeampte het gevloek en genoem dat ons moet teken anders gaan ons ‘k...k’ en hy het ons aanhou dreig. Hy het gesê ‘f...f’ en hy ons soos misdadigers laat voel,” sê hy.

“Die boete is R300. Waar kry ek nou daai geld? Iewers maak iets nie sin nie, want hoekom sal ’n verkeers­beampte nou uit sy pad gaan om ons boetes te gee? So, nou moet ek betaal of ek moet tronk toe gaan.”

Carolus weet sy werk is nie die ideale werk nie, maar hy voel die boete is onregverdig, want hy probeer net oorleef.

Nik Wullschleger, ’n raadslid van Breedevallei Onafhanklik Party (BO), sê hy ken Kevin persoonlik en dat hy gereeld by Wullschleger se huis kom werk.

“Sy ma was tot onlangs werkloos en Kevin het deur sy vullisverwydering vir sy ma en jonger sussie gesorg. Hierdie boete is wreed want hy kan nie bekostig om dit te betaal nie,” sê Wullschleger.

Verder is Wullschleger bekommerd dat Carolus nou tronkstraf kan kry indien hy nie sy boete betaal nie. “Die tronk rehabiliteer nie mense nie; mense kom gehard uit die tronk en dan begin hulle met misdaad,” voeg hy by.

Johan Botha, Breedevallei-munisipaliteit se woordvoerder, het vrae rakende die voorval ontvang.

“Die aangeleentheid is na die verkeershoof vir verdere ondersoek verwys,” het Botha gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.