Die Breedevallei Onafhanklik (BO) politieke party het onlangs sy vlerke na die Witzenberg-munisipaliteit gesprei.
Dié party bestaan reeds 20 jaar en het hom grotendeels tot dusver in die Breedevallei-munisipaliteit laat geld.
Leiers van dié party het egter leemtes in die Witzenberg-munisipaliteit geïdentifiseer, wat hy nou beoog om aan te pak.
“Ons het ervaar dat die gemeenskap in die Witzenberg-munisipaliteit nie betrokke is by hul munisipaliteit nie en inwoners het min kennis oor munisipale stelsels en die verantwoordelikhede van die raadslede,” lui die verklaring van die BO.
Die BO sê sy kerndoelwitte is om:
- ’n Sterk en duidelike stem vir die gemeenskappe van Witzenberg te wees.
- ’n Korrupsievrye munisipaliteit te help verseker.
- Deelname van die gemeenskap in die plaaslike munisipaliteit te bevorder.
- Mense te ondersteun en te help wat sukkel met deernis-aansoeke, geblokte krag, behuising, werkskepping en jeugontwikkeling. “Die BO is bekend as die waghond in die Breedevallei en ons wil graag dié rol ook in die Witzenberg vervul. Ons wil graag verandering vir die gemeenskap van Witzenberg bring om hulself te bemagtig, om te help verseker dat munisipale dienslewering – veral in die agtergeblewe gemeenskappe – verbeter word, om seker te maak dat ons belastinggeld reg begroot en bestuur word en sodoende ook korrupsie te bekamp, asook om seker te maak dat amptenare en raadslede vir hul salaris werk.” Die party is tans besig om ’n verkiesingskomitee op die been te bring.