Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boer in huis aangeval

’n Bejaarde druiweboer van Worcester is Maandag (22 Junie) helder oordag in sy plaashuis deur twee inbrekers oorrompel en met ’n piksteel aangerand.

Die 65-jarige boer is daarna vasgebind waarna die rowers met hul buit in die boer se bakkie gevlug het.

Ben Hugo, ’n wyndruiweboer van die plaas Die Eiland langs die Scherpenheuwel-pad net buite Worcester, het 12:15 nog rustig sy middagete in sy kantoor in die huis geniet toe hy voetstappe in die kombuis hoor.

“Sy en die aanvallers se paaie het gekruis. Hulle het tekere gegaan en geskree. Die twee mans is so 25 jaar oud. Die een het klippe in sy hand gehad en die ander een ’n piksteel. Die een het hom eers met die klippe bestook, maar nie een het hom getref nie. Daarna het die tweede man hom met die piksteel teen die kop geslaan waarna hy daarin geslaag het om onder ’n bank in te kruip. Die rowers het hom egter uitgesleep en histeries aangehou gil,” vertel Hugo se broer, Gerdie Hugo, (66), wat sowat 3 km van sy broer af woon.

Die rowers, wat Afrikaans met hom gepraat het, het eerstens sy selfoon geëis en toe R100 uit sy beurse gebuit. Hulle het ook sy bankkaart gevat en sy pinkode gevra.

“My broer het saamgewerk en mooi met hulle gepraat. Hy het gesê hy sal enigiets gee of enigiets doen sodat hulle net sy lewe moet spaar. Hy het egter vir hulle die regte pinkode gegee, want op daardie tydstip was hy bang een bly by hom en die ander een gaan om geld te trek en as hy sou lieg, hulle hom iets erger sou aandoen. Hy het ook gevra dat hulle net sy rybewys en ID moet los, wat hulle gedoen het,” verduidelik Gerdie.

Die rowers het Hugo met binddraad vasgebind en toegang tot die kluis geëis. Die aanvallers het die kluis oopgekry en ’n haelgeweer, ’n pistool, ’n paar juwele en kontant gevat. Ben het sy broer vertel hoe die een man die pistool gelaai en oorgehaal het voordat hy dit in sy broek gedruk het, wat Ben vir sy lewe laat vrees het.

“Hul het sy hande en bene vasgebind en hom in die badkamer gelos. Hulle het sy Isuzu Clubcab-bakkie gevat en gevlug. Ben se vrou, Anna, was in die dorp en het enkele minute voor die aanval gery. Ben het wonderbaarlik losgewikkel en hom na Sandy Jefferey, sy buurman, se plaas gehaas vir hulp.”

Aanvanklik het plaaslike Facebook-groepe gesê sy vrou is ook in die aanval vasgebind en gemartel.

Gawie Bruwer, ’n ander boer van die omgewing, het Ben se bakkie op die Aan de Doorns-pad gewaar en die bakkie saam met Frans Pietersen van die Overhex-plaaswag agternagesit.

“Dit was ’n jaagtog. Die aanvallers het in die rigting van Zwelethemba gery, en aan die verkeerde kant van die pad stilgehou en skote deur die ruite afgevuur nadat hulle nie die deure kon oopkry nie. Een man het te voet in die rigting van Zwelethemba gehardloop nadat hulle deur die een ruit geklim het. Die aanvallers het nog vier skote in ons rigting op ons bakkie geskiet. Ons het hulle agterna probeer sit, maar hulle het in die township verdwyn,” het Pietersen van die Overhex-plaaswag aan Standard vertel

Ben is dadelik na ’n plaaslike dokter geneem en ly nog aan skok ná die gebeure.

Die rowers het net met een van die vuurwapens en Ben se selfoon gevlug.

Kapt. Tobela Dyasi van die Worcester-polisie het aan Standard bevestig ’n klagte van huisroof word ondersoek. Hy het ook gesê die twee misdadigers is nog op vrye voet.

Enigiemand met inligting kan die Worcester-polisie kontak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.