Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boesemvriende sterf saam

Twee boesemvriende se families is in rou gedompel nadat die motorfiets waarop hulle gery het deur ’n trein getref is.

Godfrey Titus, ook bekend as Lallas (28), en Malan Karelse (23) het verlede Donderdag op die plaas net buite De Doorns waar hulle gewerk het, met ’n motorfiets gery toe die ongeluk na raming tussen 11:30 en 12:00 gebeur het.

Volgens Titus se lewensmaat van 11 jaar, Meldeen Davids, toet die trein gewoonlik voordat dit by die oorgang aankom.

“Donderdag het die trein nie getoet nie. Godfrey het gery en toe hy die trein sien en wou wegdraai, was dit te laat.”

Wyle Godfrey Jacobus Titus Foto:
Wyle Malan Karelse Foto:

Die boesemvriende het saam op die plaas Vreesniet, waar hulle grootgeword het, gewerk.

“Hulle het alles saam gedoen en alles gedeel,” sê Lena Thomas, Karelse se pleegma sedert hy vyf jaar oud is.

Thomas was Donderdag by haar huis toe die ongeluk gebeur het.

“Ek het gestaan en wasgoed vou. Ek het gehoor die trein kom aan en ek het die harde slag gehoor. Ek het gehoor hoe mense raas en skreeu en het gaan kyk wat aangaan. Ek het so gehoop hy leef nog, maar toe ek by hom aankom het hy net daar gelê – roerloos,” het Thomas gesê.

Davids voeg by sy weet nie eens hoe sy op die toneel gekom het nie.

“Al wat ek kan onthou is toe ek by Lallas aankom was sy oë en mond oop. Maar ek kon hom nie so sien nie. Ek het weggestap en ’n rukkie later toe ek weer na hom gaan kyk, was sy oë toe.”

Titus en Davids het twee dogters van onderskeidelik nege en vyf jaar oud.

“Hy was ’n baie trotse pa. Hy is die een wat hulle altyd onder beheer gebring en hulle met huiswerk gehelp het. Daar heers nou ’n leemte in ons huis; ’n groot verlange.”

Karelse se pleegma sê hy was ’n “baie lieflike mens”.

“Hy het altyd geglimlag. Hy was ’n rustige mens; jy kon nie eens opmerk wanneer hy kwaad was nie,” sê Thomas.

Sarie Titus het tranerig vertel hoe sy moes smeek om die waarheid oor haar seun te hoor.

“Ek was in Worcester toe ek Donderdagoggend ’n oproep kry dat ek onmiddellik plaas toe moes kom. Ek het ’n voorgevoel gehad dat iets groot fout was. Niemand wou vir my sê wat aangaan nie.”

Sy noem dat sy histeries van bekommernis was, maar steeds het niemand haar die waarheid vertel nie.

“Ek wou net my kind sien. My niggie het eers ná ’n dokter my ’n kalmeermiddel gegee het, gesê my kind is dood.”. ’n Begrafnisdiens vir die twee maats word Saterdag 7 Desember 10:00 op die Vreesniet-plaas in De Doorns in die Waterwise-saal gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.