Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Brandstigter’ sterf, gesin dakloos

’n Gesin van Zolani in Ashton is verpletter nadat hul huis deur, na bewering, ’n dronk man aan die brand gesteek is en hy in die brand omgekom het.

Hul woning, ’n informele huis in Nkandla, die informele nedersetting in Zolani, het Saterdagaand (7 November) tot op die grond afgebrand en die gesin het al hul besittings in dié brand verloor. Vyf volwassenes en twee kinders is dakloos gelaat en nie eens klere of ou foto’s kon gered word nie.

“ ’n Man, wat ons almal in die gemeenskap goed geken het, het dronk hier by ons huis opgedaag. Hy het ons beveel en gesê hy wil hier slaap, maar ons wou hom nie toelaat nie. Ons wou hom nie naby ons of die kinders hê nie. Daarna het alles verander,” vertel een van die huisbewoners, Masentle Rakauoane, aan Standard.

Masentle verduidelik die man het toe ’n hamer wat buite gelê het, gegryp en die dak begin stukkend kap.

“Ons het geskrik en nie geweet wat aangaan nie. Ek en my ma, die kinders en nog ’n vrou was alleen by die huis en het geroep vir iemand om te kom help. Die man het ingekom en ons binne toegesluit en toe my laaste paraffien gevat en orals uitgegooi. Ons het geskree, maar hy het die plek aan die brand gesteek. Ons het die deur opgebreek en kon wegkom, maar hy is binne dood.”

Sy verduidelik dat die gebeure hulle geskok het en hulle eintlik nie besef het wat aangaan nie.

“Ons het, toe ons tot ons sinne kom, besef wat aangaan en wou hom help, maar ons kon hom nie red nie.”

Die man is later geïdentifiseer as die 40-jarige Bongani Kolele.

Die eienaar van die woning, Mantsho Rakauoane, Masentle se ma, probeer nou kyk wat die gesin gaan doen en waar hulle gaan woon.

“Intussen bly ons by vriende en familie, maar verblyf was nog voor die brand al klaar ’n probleem. Ons het nou niks meer oor nie en nie eens een raadslid het ons nog kom probeer bystaan nie. Ons is op ons eie. Ons het self probeer om die brand te blus, maar alles het net te vinnig gebeur. Ons moes toekyk hoe alles ten gronde gaan, want ons het nie eens toegang tot water nie.”

Khanyile Klaas, komitee-sekretaris van die Ashton Informal Settlement and Backyard Dwellers Crisis Committee, het aan Standard gesê hulle is boos oor hierdie tipe van misdade wat gepleeg word.

“Die tekort aan behuising laat mense wonings oprig wat eerstens onveilig is en vroue en kinders moet in huisies woon waartoe enigiemand toegang het. Dan gebeur hierdie dinge. Dit is tyd dat behuising en die kwessie rakende die behuisingstekort getakel en opgelos moet word.

“As daar ten minste ’n woning was met net krag, sou daar nie paraffien gewees het om die brand te stig nie. As daar water was, sou die vuur geblus kon word,” verduidelik hy.. Enigiemand wat die gesin met artikels soos klere of selfs kos kan help, kan Khanyile by 078 377 7958 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.