Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Brandstofpryse maak nou baie seer
petrolprys

Motoriste moet weer meer opdok nadat brandstofpryse gister (Woensdag 3 Oktober) met meer as R1 per liter gestyg het.

Dit is die grootste styging in die brandstof­prys sedert 2015. Motoriste sal gemiddeld nou meer as R17 per liter vir petrol betaal.

Vir 95-oktaanpetrol betaal jy nou R17,08 in die binneland en R16,49 langs die kus. Diesel kos nou R15,65 in die binneland en R15,16 langs die kus. 93-Oktaan is 99c duurder. Gas styg met R1,79 per kilogram en paraffien met R1,39 per liter.

’n Groep aktiviste het Dinsdagaand in Worcester by twee plaaslike vulstasies motoriste aangemoedig om hul petisie teen brandstof se prysverhoging te onderteken.

Binne een uur het hulle reeds 100 handtekeninge by een van die vulstasies versamel.

Vernon Bedworth, organiseerder, sê dis hoogtyd om op te tree teen die aansienlike brandstofprysverhogings.

“Dis die sewende verhoging in die afgelope tien maande,” voeg hy by.

’n Ongelukkige motoris, Besley Pieter­sen, sê ander Afrikalande se brandstof kos minder.

“Wat regverdig die brandstofprys­stygings, want Suid-Afrika is ook ryk aan minerale? Die regering kan planne maak om die uitwerking op motoriste se beur­sie te verlig.” Brandstof in Suid-Afrika se buurlande kos minder. In Namibië kos ’n liter brandstof R11,69, in Botswana R10,53, in Lesotho sowat R11,67 en in Swaziland R12,78.

Die huidige brandstofprysverhoging het mense warm onder die kraag. Standard se joernaliste Nasifa Sulaiman en Brümilda Swartbooi het met Worcesteriete gaan praat.

Ryno Miller (heel regs op foto) sê: Ek is al meer as vyf jaar lank ’n taxibestuurder en dis die duurste wat petrol nog ooit gekos het. Dit is glad nie ’n grap nie. Ons is baie ongelukkig, want ons hande is afgekap. Die passasier se fooi vir die taxi bly dieselfde. Ons kan dit nie opstoot nie, want dan gaan minder mense taxi ry. Dis klaar stil, sommige dae sukkel ons reeds om die taxi vol te laai. As ons ons pryse verhoog, gaan meer mense loop. Die brandstofprysstyging beïnvloed ons bedryf, dit ruk ons sakke.
Luciano Adams sê: Ek is ongelukkig, ’n mens kan dit nie bekostig nie. Alles gaan op, die salarisse word nie aangepas nie. Deur die brandstofprys wat weer eens styg, gaan vervoerkoste ook styg en dit wil sê die kospryse gaan ook styg. Dit maak dit ondraaglik vir mense om aan te pas, so ek is nie gelukkig nie. Ek het twee voertuie. Ek ry met ’n kar en ’n motorfiets en ek betaal omtrent R1?200 per maand net vir brandstof vir my kar, dis baie moeilik. Hoewel ek in Johnsonspark bly, is dit steeds baie geld. Ek sal nou moet kyk waar en hoe ek geld kan spaar.
Cheslin Adams sê: Hoewel ek in Worcester bly en nie ver werk toe hoef te ry nie, moet ek steeds baie petrol ingooi. Waar ek byvoorbeeld R400 moes ingooi, sal ek nou seker R500 of meer betaal. Ek het gister klaar R300 ingegooi en dis nog net die eerste week van die maand. Ek is baie ongelukkig oor die brandstofprysverhoging, dit beïnvloed ons almal finansieel. Die petrol is ’n groot probleem vir ons almal. Mense moet hul stem laat hoor oor die styging van die brandstofpryse. Ek sal nou in die somer met my fiets werk toe moet ry, dis al manier hoe ek geld gaan spaar.
Johan Geldenhuys sê: Die brandstofprysverhoging beïnvloed maar alle motoriste. Ek sal die styging die ergste voel oor naweke wanneer ek my eie voertuig ry, want gedurende die week gebruik ek die maatskappy se voertuig. Ek ry baie oor naweke, soms ry ek selfs ’n vol tenk uit. Die aansienlike styging sal my naweekroetine tot ’n mate belemmer. Ek sal beslis begin spaar en dalk ’n voertuig wat ligter is op brandstof, soos ‘n Suzuki, aanskaf.
Shakes Hlanyane sê: Ek is uiters ongelukkig oor nog ’n brandstofprysstyging. Brandstofprysverhogings affekteer almal, maar die armste van arm mense gaan erg gebuk onder dié verhoging. Ek is ’n sakeman, daarom word van my vereis om gereeld my voertuig met brandstof te vul. In een week gee ek bykans R1?000 op brandstof vir een voertuig uit. Ek is gereeld op die pad. Ek weet nie watter moontlike spaarmetodes ek kan implementeer nie, want alles word duurder sodra die brandstofprys ook styg. Alternatiewe is nie eens van toepassing nie, want as ek iewers wil ry, sal ek maar moet opdok, maar ek is baie ontsteld hieroor.
Ben Fredericks sê: Ek bly op ’n plaas op die Robertson-pad en hoewel ek nie self ’n kar het nie, moet ek my kleinseun se kar vra wanneer ek my pensioengeld gaan haal. Ek moet self die petrol ingooi en dit moet maar uit my pensioengeld kom. Ek wil weet waarom moet die brandstofprys so baie styg, want dit beïnvloed almal, nie net die mense wat bestuur nie. Dit affekteer op die ou einde kospryse en nog meer. Om geld te spaar, moet ons maar begin werk toe stap of ’n taxi vat, daar is nie ’n ander uitweg nie.

Meer oor:  Verhogings  |  Worcester  |  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.