Niemand kon voorspel wat 2020 vir ons sou oplewer nie en dit het ’n uitwerking op ons almal in die gemeenskap gehad.
Standard het met Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, gesels oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die munisipaliteit.
“Die gemeenskap het mekaar sedert die aankondiging van die pandemie goed ondersteun en ek wil vir ons mense baie dankie sê vir hul omgeeharte teenoor mekaar,” sê Steyn.
Die streek was vanjaar in ’n stryd met die dood gedompel met talle legendariese inwoners wat nie meer daar is om hul plek vol te staan nie.
“Ons het baie geliefdes verloor. Die skok was groot vir ons dorp en ons almal het die seer gevoel. Ons het saam met geliefdes gehuil en saam aan hartseer gedra.”
Volgens Steyn is dit nou belangrik om nie moed te verloor nie.
“Ons almal voel die druk, hartseer en onsekerheid, maar ons moet aanhou glo ons Hemelse Vader sal weer Sy lig laat skyn. Ons moet nou bouers van mekaar se liggaam en gees wees. Dit gaan beter word.”
In die lig van die feestyd het Steyn inwoners herinner dat die pandemie steeds bestaan en oorkom moet word.
“Ons moet almal in die feestyd hoop, liefde en omgee toepas en die positiewe in almal begin raaksien. Ons moet aanhou bid vir ons dorpe omdat ons nie weet waarheen die virus beweeg nie, maar ons moet positief bly.”
Die Breedevallei-munisipaliteit is tans besig om maskers en seep in informele nedersettings uit te deel om te help met die bekamping van die Covid-19-pandemie se tweede golf wat die streek nou tref.
“Ons moet mekaar aanspreeklik hou om die maatreëls te alle tye te volg en dit moet streng deur almal toegepas word. Saam sal ons die virus oorkom.”