Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Byna geslag vir muti

’n Groep mense moes iemand weghou wat die luiperd wat Maandagaand op die N1 raakgery is, wou opsny vir muti waar sy sterwend langs die pad gelê het.

Die voorval waarin ’n Kaapse luiperd Maandagaand raakgery is, het weer bewys dat Worcester se mense hande vat wanneer dit nodig is, sê diereliefhebbers van die dorp.

Godfrey van Rooyen, ’n Worcesteriet wat onderweg was van De Doorns na Worcester, het die luiperd in die pad sien lê en dadelik sy bakkie met noodligte aan voor die dier geparkeer.

“Ek het gesien die dier haal nog asem en het besef ek moet haar uit die pad kry. Ek het haar stadig uit die pad gesleep al was ek bewus dat sy my kon byt. Vir my het dit net daaroor gegaan om die dier te probeer red,” sê Van Rooyen. Hy en ’n groep mense het iemand weggejaag wat die dier net daar wou opsny.

Hy het toe ’n foto van die luiperd op Facebook gelaai en die polisie geskakel.

“Ek en André du Preez van Silverfox Snake Rescues het die luiperd dadelik na dr. Dave Midgley van die Worcester-dierekliniek geneem,” sê Juenieta Everson van Sandy’s Eden-dierewelsynorganisasie.

Volgens Midgley was die luiperd ’n volwasse wyfie van 18,5 kg. Sy het ernstige kopbeserings opgedoen en Midgley vermoed haar nek is in die voorval gebreek.

“Sy het geen reflekse in haar voor- of agterpote gehad nie. Sy is dood terwyl ons besig was om ’n drup aan te sit. Ons moes haar net probeer red. Dis altyd hartseer as ’n mens só ’n pragtige dier aan die dood moet afstaan,” sê Midgley.

Volgens Pietie Beukes, ’n luiperdkenner, is die Kaapse luiperd kleiner as ander luiperds omdat dit aangepas is vir die bergagtige gebiede waarin hulle voorkom.

Everson sê dit was ’n groot voorreg om die luiperd te probeer red. “Die groot held van die dag was egter Godfrey van Rooyen, wat uit sy pad gegaan het om seker te maak dat die dier veilig is. Hy was lid van ’n groep mense wat iemand weggejaag het wat die dier vir muti wou kom vat,” sê Everson.

“Motoriste word aangemoedig om waaksaam te wees wanneer hulle waarskuwingstekens gewaar wat aandui dat diere in die omgewing oor die pad kan beweeg. Die tekens kom voor in veral bergpasse waar wild die pad gereeld oorsteek. Ons wil die publiek bedank vir hul pogings om die dier te beskerm en die nodige instansies te kontak om die luiperd te kom haal,” sê Loren Pavitt van Cape Nature.

Pavitt het bevestig dat die karkas van die luiperd gebruik sal word vir verdere navorsing oor die spesie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.