Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Te min redders, duisende sak toe
Chaos by swembaddens

’n Dringende mosie is by die mees onlangse raads­vergadering inge­dien,nadat twee kinders die afgelope naweek hul bene ge­breek het, twee amper ver­drink het en een ’n rugbese­ring opge­doen het by drie van die dorp se munisipale swem­baddens

Raadslede het in stilte geluis­ter na die mosie wat, 30 minu­te voor die raadsvergadering sou afsluit, deur Colin Wilskut (BO) ingedien is. “Ek dien dié dringende mosie in omdat ek voel ons raad se swembad­dens is nie veilig nie. Die afgelope na­week by De La Bat-swembad was daar meer as 3 000 mense terwyl die toegelate getal besoekers net 1 500 is. Net drie lewensred­ders het toesig gehou. Dis drie vir elke duisend. By Greystraat se swembad was daar 2 000 mense terwyl die kapasiteit net 880 is,” het Wilskut gesê.

Speaker Neil Mercuur het die raad gevra om te stem of Wil­skut met die dringende mosie kon voortgaan en die meerder­heid het ten gunste daarvan gestem.

“Hierdie raad moet dringend ingryp, want ons stel lewensredders aan om lewens te red. Ons het die afgelope tyd tien lewensredders aangestel. Die meeste van hulle het net graad 12 en kan swem. Dít nadat die BVM twee keer adverten­sies in die media vir dié poste geplaas het.

“By die tweede advertensie is die standaard afgegradeer en hier noem hulle dat die kandidate net ’n graad 12-sertifikaat moet hê, met geen lewens­red­der­sertifikaat hiér ter sprake nie,” sê hy.

Raadslid Pat Marran (ANC) het ook die probleem uitgelig dat die lewensredders net oor ’n graad 12-sertifikaat moet beskik. “Dis waansin dat die munisi­paliteit dink iemand met graad 12 kan swem en lewens red. Die advertensie sal hersien moet word,” het Marran gesê.

De la Batweg-swembad in Worcester

By die De La Bat-swembad het mense oor die heining geklim nadat hulle by die hek voorgekeer is omdat die swembad vol was.

“Die mense het daardie swembad so bestorm omdat dit ’n lafenis in die warm weer was. Dit was 42 °C buite. Daar was absoluut geen skarebeheer by die swembad nie en mense het met messe en skêre die perseel betree. Ons is besig om met mense se lewens te speel,” aldus Wilskut.

Volgens hom is van die kinders wat daar gaan swem se ouers die armstes van die armes. “Vir die kinders gaan dit om hulle te geniet, hulle dink nie eers daar­aan dat hulle in die swembad kan verdrink nie,” het hy gesê.

Hy sê die raad het lewensredders nodig wat lewens kan red en het voorgestel die raad vra voormalige lewensredders om weer te kom help.

Uitvoerende burgemeester Antoinette Steyn (DA) het geskok op die mosie gereageer.

“Ek weet nie wat om te sê nie. Ons het reëls by swembaddens, ons vra gereeld vir ons mense is julle gereed, het julle die regte mense aangestel, kan ons die swembaddens oop maak, het ons beheer? Ons weet mense hou nie by die reëls nie. Ons weet soms ons het nie bekwame mense wat aansoek doen nie. Ons weet daar is mense wat in die verlede diens gedoen het, waarom kan ons hulle nie weer gebruik nie?” het sy gevra.

Die ergste is as ’n kind verdrink. Wie gaan verantwoordelikheid daarvoor neem? Die burgemeester gaan verant­woor­delikheid daarvoor moet neem.
Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester

“Die mense gaan sê die burgemeester het geweet daar is nie bekwame mense of hulpmiddels nie en sy moet verant­woorde­likheid aanvaar.”

Sy het gesê as die munisipaliteit nie gereed is nie, moet hulle nie voortgaan met iets wat hulle duur te staan gaan kom nie. “As ons swembaddens nie reg is nie, dan kan die hekke nie oopgaan nie. Dan bly die swembaddens toe.”

Meer oor:  Worcester  |  Swembaddens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.