Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
DEPRESSIE
Daar is genoeg hulp vir tieners
depression


Om te vroeg aan dwelms en alkohol blootgestel te word, kan geestesgesond­heids­probleme soos bipolêre versteuring en skisofrenie gevolg hê.

“Die probleem is dat die brein in die tienerjare nog nie klaar ontwikkel is nie. Tieners is nog baie impulsief en ons kan dit deurtrek na die feit dat hul brein nog nie klaar ontwikkel het nie. Die voorste gedeelte van die brein ontwikkel heel laaste en dit is waar die besluitneming lê, dit is waar die impulskontrole lê,” sê dr. Leilanie Phillips-Losch, ’n kliniese sielkundige by die Kaapse Wynland-distrikskantoor.

Sy sê dit veroorsaak dat tieners baie meer met middels soos dwelms en alkohol wil eksperimenteer.

“Navorsing toon dat as hulle op só ’n vroeë stadium begin met dwelmgebruik, skade aan die brein groter is. Dit kan ook wees dat die tiener dalk iemand is wat ’n genetiese kwetsbaarheid het om ’n geeste­siekte te ontwikkel, met ander woorde daar is miskien ’n familieagtergrond daarvan en ons weet dit nie, want ons kan dit nie sien nie,” verduidelik Phillips-Losch.

Volgens haar word baie ernstige geeste­siektes soos bipolêre versteuring en skisofrenie op hierdie manier ontwikkel.

How to deal with stress
How to deal with stress. Source: SACAP

“Die ouderdomsgroep van pasiënte waarmee ons werk, is van 15 jaar na vroeë volwasse jare. Dit is waar ons baie sien dat jongmense presenteer met psigose wat deur dwelms geïnduseer is en dit kan natuurlik dan voortduur.

“Kyk ons na die ander versteurings soos depressie en angs, sien ons dat dit al vroeër voorkom en dit is kommerwekkend,” sê Phillips-Losch.

Sy sê hulle sien minder kinders in die kliniek omdat baie van die kinders eers by die skool tekens van psigose toon.

“Met erge dwelmmisbruik ondervind ons dat hulle in die hospitaal opeindig omdat hulle baie siek is,” voeg sy by.

Wanneer ’n pasiënt met ’n geestesver­steuring inkom, om welke rede ook al – verwysing van ’n skool omdat daar klagtes was of hul ouers – word die pasiënt eers deur ’n suster geëvalueer dan deur ’n dokter wat ’n meer volledige evaluering doen. Slegs dán sal ’n besluit vir behandeling geneem word.

“By jonger kinders, selfs met depressie en angstoestande, kan ons nie regtig medi­kasie toedien nie omdat hulle so jonk is. Die hoofbehandeling is gewoonlik sielkundige berading of as ons sien daar is sosiale omstandighede wat aandag nodig het, om ook maatskaplike werkers in te bring. Dit is baie keer ons hoofinterven­sies,” verduidelik Phillips-Losch.

Volgens haar probeer hulle ook so ver moontlik die ouers bemagtig.

Die ouers is die hoofterapeute. Die kind/pasiënt kom eintlik kortliks vir terapie, maar dit is waar die veilige hawe vir hulle geskep moet word.

“Dit is baie hartseer, want ouers het goeie voorneme en probeer regtig hard werk. Hulle probeer voorsien, maar in die proses is hulle so moeg vanaand dat hulle nie die tyd het om aandag te gee aan die kind nie en byvoorbeeld kan vra hoe die kind se dag was nie. Dié basiese goed is eintlik wat die verhouding bou en wat veerkragtigheid bou. Dit is wat ons ons kinders moet gee. Hulle moet leer hoe om mettertyd daar buite in die wêreld besluite te moet neem wanneer hul ouers nie by is nie. Dis ongelukkig ’n bose kringloop,” sê sy verder.

In die 12 jaar wat Phillips-Losch by die Kaapse Wynland-distrikskantoor ’n kliniese sielkundige is, sê sy hulle sien ’n neiging van baie meer kinders so jonk as 14 jaar wat tekens van psigose toon.

“Destyds toe ek begin het, het ons baie min kinders gesien. Nou sien ons al hoe meer kinders met depressie, selfs so jonk as agt. ’n Mens raak bekommerd, want dis altyd goed waaroor jy slegs gelees het,” sê sy.

Navorsing toon hoe jonger psigose by ’n kind gediagnoseer word, hoe groter die kans dat dit later ’n kroniese probleem gaan word.

“Vir my spreek dit boekdele oor die omstandighede van ons samelewing vandag, want daardie kinders is nie gebore met geestesgesondheidsprobleme nie. Baie keer is dit die omstandighede waarin hulle grootword.”

Volgens Phillips-Losch word almal blootgestel aan stresfaktore in hul lewe, dis onvermydelik. Belangrik is egter die hulpbronne, die ondersteuningsnetwerk, wat aan mense beskikbaar is en die kapasiteit om deur die stresfaktore te werk en dat mense hul nie tot dwelms en alkohol wend vir verligting nie.

Hulp is beskikbaar. Daar is verskillende professionele persone wat van groot hulp kan wees vir navrae en besorgdheid soos psigiatriese verpleegkundige, arbeids­terapeute, maatskaplike werkers, dokters en sielkundiges.

.Al hierdie spesialiste is beskikbaar per afspraak by die verskillende klinieke in die Kaapse Wynland-distrik. By die sekondêre hospitaal is spesialisdienste sowel as binnepasiëntdienste beskikbaar indien dit benodig word.

Meer oor:  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.