Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Damon soek skuiling in grot

Namate Damon meer op sy gemak begin raak het, het sy nuwe modus operandi ook sigbaar geword.

Groente en vrugte het begin verdwyn en hy het ’n voorliefde vir groenmielies gehad.

Later van tyd het wasgoed ook begin verdwyn. Die opvallendste van sy taktiek was: Hy het op alle plase in die omgewing gesteel behalwe op die plaas van Gawie van der Merwe op Boschkloof.

Beskrywing van Damon se grot

Nadat hy gevang is, is ontdek dat Damon die Droster die veedief was en dat sy grot hoog bokant Boschkloof aan die voet van die Keeromberg was.

Van waar hy in sy grot teen die Keeromberg gewoon het, het Damon ’n uitsig oor die hele De Wetvallei van Hexrivierpoort tot by Uitvlugt gehad met Worcester in die verte.

Agter sy grot bied die Keeromberg ’n natuurlike grens wat maak dat niemand by hom sou kon uitkom nie. Sy grot het hoog teen die berg gesit en daar was ’n steil krans voor die grot.

Die grot het in ’n kloof gesit, dus was dit onmoontlik om hom in die verte te gewaar as hy saans vuurgemaak het. Vandag ken niemand meer die presiese ligging van Damon se grot nie, maar volgens oorlewering was die grot slegs met ’n baie nou voetpaadjie deur ’n nou skeur bereikbaar en het dit oor ’n hoë afgrond gekyk.

Daar was glo ook ’n groot rotsoorhang oor die grot se ingang en hy het dít met klippe, klei en boomtakke versteek. Daar was aan die linkerkant, aan die Keeromberg se kant, ’n klein ingang na die grot. Die klippe en boomtakke by die grot se bek het nie net luiperds weggehou nie, maar dit het ook gehelp dat hy saans binne in sy grot ’n vuurtjie kon maak.

Daar was geen uitgetrapte paadjie na die grot nie omdat Damon altyd ’n verskillende roete gebruik het om by die grot uit te kom – uit vrees dat sy spoor opgetel sou word.

Volgens oorlewering is die grot op so ’n snaakse geologiese manier gevorm dat ’n mens voor kon ingaan en dan aan die agterkant kon uitgaan. Dít is ook een van die redes waarom hy dié grot as sy blyplek gekies het omdat hy dan maklik sou kon ontsnap as iemand hom van voor af sou aankeer.

Die grot was teen ’n steil krans wat baie moeilik bereikbaar was, wat dan ook saans beskerming vir hom teen luiperds gebied het. Tot vandag toe kom daar nog luiperds in die Keeromberge voor – ’n mens kan jou maar net indink hoeveel luiperds 130 jaar gelede in hierdie omgewing voorgekom het.

Die omgewing rondom die grot waar hy gewoon het, bestaan uit skaliekoppe met Karooagtige bossieveld met heelwat aalwyne en vetplante.

Ná die winterreën is dit klein bossies en vygies wat hul lentegewaad in die klipkranse ten toon stel.

Die gebied om die grot, is baie onherbergsaam en hy was genoodsaak om sy voedsel elders te soek.

Tot vandag toe is hier, nog laer af in die vallei, baie klipspringers, grysbokke, witkruisarende, ystervarke, dassies, hase en skilpaaie.

Hoog teen die steil kranse van die berg waar sy grot was, was daar nie baie diere nie omdat dit so moeilik bereikbaar was.

Buitendien is dit baie moeiliker om ’n wilde dier te vang as wat dit is om ’n skaap te vang wat in ’n kraal vasgekeer is, of ’n vark wat op hok staan.

Die plaaslike boere van die omgewing het telkens ’n soortgelyke modus operandi opgemerk en het gereeld op ekspedisies uitgegaan om die booswig te gaan soek, maar elke keer sonder sukses.

Hy het hulle vir jare lank bly ontwyk en toe hy uiteindelik gevang is en uitgevind het dat sy naam Damon is en sy grot daarna uiteindelik ontdek is, het ’n put vol verbleikte skaap- en varkbene sy oorlewingsverhaal vertel.

Madge Heatlie van Hexrivier­poort se weergawe van die lewe van Damon die Droster

Madge Heatlie het in 1954 ’n artikel oor die lewe van Damon die Droster in die Cape Argus geskryf.

Volgens haar inligting het hy ook as Damon Perderuiter en as Damon die Stroper bekendgestaan.

Bespiegeling oor Damon se moontlike Griekwa-herkoms

Lawrence Green het in sy boek, Karoo, soos Heatlie bespiegel of Damon van Griekwa-afkoms kon wees en dat hy suidwaarts verhuis het. Hulle erken of ontken nie dat hy van Khoi-San-afkoms was nie, maar ondersoek ook die moontlikheid dat hy dalk van Griekwa-afkoms ook kon gewees het.

Dat hy van Griekwa-afkoms is, is te betwyfel omdat die Griekwas van daardie tyd in die Vrystaat voorgekom het – hoewel dit nie onmoontlik was dat ’n enkele Griekwa suidwaarts kon getrek het nie en dat Damon multi-etnies was.

Indien daar na ’n foto van Damon gekyk word, toon hy nie die tipiese Griekwa-gelaatstrekke nie, maar veel eerder die tipiese Khoi-San-gelaatstrekke.

Taal van Damon

Heatlie skryf Damon het volgens oorlewering nog sy eie taal gepraat wat geen van die plaaslike inwoners kon verstaan nie. Hierdie taal was waarskynlik ’n uitgestorwe plaaslike Khoi-dialek.

Sy skryf hy het ook deur die jare ’n paar Engelse en Nederlandse woorde aangeleer en dat hy later ook geleer het om basiese woorde te lees en te skryf.

. Lees volgende week verder oor Damon die Droster.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.