Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Diefstal gedy by drie skole

Drie bekende skole in Worcester is die afgelope tyd swaar deur diefstal en vandalisme getref. Die polisie sê hulle beskou dit as ernstige misdade en hulle werk hard om die skuldige partye vas te trek.

Standard het met die hoofde van die drie skole gesels om beter perspektief te kry oor die inbrake en hoe die skole dit te midde die Covid-19-pandemie, wat hulle ook tans moet beveg, hanteer.

Haasdas Educare Centre is nou reeds 30 jaar bekend as een van die bekendste en mees gerespekteerde kleuterskole hier, maar hulle is in ’n onlangse inbraak geen genade betoon nie. Die kleuterskool bedien meer as veertig kinders en die inbraak het hul beplande opening in die wiele gery.

“Ons het omtrent R100 000 se skade gely en verskeie goed soos rekenaars, televisieskerms, opvoedkundige speelgoed, ’n gasstoof en kruideniersware is gesteel. Dit is hartverskeurend,” sê Eldé Wilskut, die hoof.

Wilskut sê die Worcester-polisie se forensiese span is tans besig om vingerafdrukke wat gevind is, te verwerk.

“Ons het die afgelope Saterdag (11 Julie) bymekaargekom om te beplan vir ons heropening, maar die gesprek was eerder oor die inbraak en hoe ons dit nou gaan oorkom. Finansieel is ons nie so gesond dat ons alles net kan vervang nie, so ons is tans in ’n baie moeilike posisie,” sê Wilskut.

Die inbraak word deur dié skoolhoof as “ongevoelig” beskryf en die kinders ly nou die ergste daaronder omdat die kleuterskool nou heel moontlik met minder opvoedkundige toerusting sal moet klaarkom.

Die Hoërskool Breërivier het ook deurgeloop en die hoof, Mas May, sê hulle het eintlik nie woorde om hul gevoel oor die situasie te beskryf nie.

“Ons was gelukkig dat ons vanoggend (14 Julie) nog op die skool se perseel ’n televisieskerm en ’n rekenaarmonitor opgetel het,” vertel May.

Daarbenewens is twee rekenaars, ’n selfoon en projektors gesteel.

“Dit lyk asof die diewe dit nie weer kon kom haal nie.”

May sê verder gedeeltes van die heining is ook gesteel. Dit beïnvloed die kinders se veiligheid en maak die skool baie kwesbaar.

“Die opsigter se sleutels is gesteel en alle slotte moet vervang word. Ons is besig met berekeninge, maar in hierdie stadium is dit baie moeilik om ’n presiese bedrag aan die skade en diefstal te koppel.”

Standard verneem die inbrekers het nie net gesteel het nie, maar selfs die skoolgebou gevandaliseer.

“Die adminpersoneel se glasafskorting is stukkend getrap, laaie is omgekrap en goed is uit die mure gebreek. Die inbrekers was op ’n pad van verwoesting.”

Die Hoërskool Breërivier wag nog dat die polisie-ondersoek voltooi word en hoop die diewe word vinnig vasgetrek.

Esselenpark Senior Sekondêr het in die laaste tyd vier inbrake gehad en die skoolhoof, Francois Beukes, sê dit veroorsaak ’n “onnodige situasie” wat vermy kon word as die skuldige partye net die nodige respek teenoor die skool toon.

“Die meeste van die inbrake was by die toilette en ons het onder vandalisme in dié gebiede deurgeloop. Die diewe het ook by een klaskamer ingebreek en goedere gesteel,” bevestig Beukes.

Hy noem verder dat die skool en ander skole in die gemeenskap reeds ’n stryd teen die Covid-19-pandemie voer en dit is juis vir dié rede dat ’n mens sou verwag “dat mense ten minste genade teenoor die skole sou toon”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.