Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dippenaar, die ‘omgeemens’, oorlede

Hannes Dippenaar, ’n bekende Worcesteriet en AfriForum se buurtwagvoorsitter, is verlede Woensdag (30 September) oorlede.

Dippenaar is na Kaapstad vir behandeling weens beenmurgkanker wat vroeër vanjaar by hom gediagnoseer is.

Standard verneem hy het tydens sy hospitalisering Covid-19 opgedoen en is toe oorlede.

“Hy het ’n passie vir mense en gemeenskapsveiligheid gehad. Hy was ook ’n groot diereliefhebber. Hy was jare lank betrokke by die plaaslike GPF en was ’n munisipale wykskomiteelid vir Wyk 7 in Worcester,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, Johardt van Heerden.

Van Heerden het bygevoeg ’n afskeidspatrollie is Vrydag (2 Okto­ber) vir Dippenaar gehou en is deur omtrent 80 buurtwaglede bygewoon.

“Dit was ’n voorreg om saam met Hannes in AfriForum se Worcester-buurtwag te kon dien. Ons het baie lewenslesse by hom geleer. Hy het hard geveg, maar rus nou by ons Hemelse Vader. Hy laat ’n groot leemte en groot skoene wat gevul moet word,” sê Ruan Butler, ’n nabye vriend van Dippenaar en koördineerder van AfriForum se Worcester-buurtwag.

Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, het haar medelye teenoor die Dippenaar-familie uitgespreek.

“Hannes het as omgeemens by uitstek daarin geslaag om mense van verskillende agtergronde en oortuigings almal byeen te bring en te laat saamwerk in die soeke na gemeenskaplike oplossings deur ’n gedeelde visie,” sê dr. Julian Kritzinger, die burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur.

Kritzinger sê Worcester staan as Suid-Afrika se “Care Capital”, of “Omgeestad”, bekend en Hannes was tekenend van wat dit beteken om werklik vir ander om te gee.

“As gemeenskapsaktivis het Hannes geveg vir vooruitgang in Wyk 7 en het ons kragte saamgesnoer om vele veranderings te vermag, waaronder die spoedkameras by die Hoog- en Harrisstraataansluiting, die uitleg van nuwe erwe in Dirkie Uysstraat, die skoon hou van die veld by Dirkie Uysstraat, die plant van nuwe bome in Hans de Langesingel en die herverseling van etlike strate.

“Hannes se wens was dat AfriForum se Worcester-buurtwag die grootste en sterkste buurtwag in die land word, en ons wat agterbly, sal alles in ons vermoë doen dat Hannes se droom ’n werklikheid word,” het Butler afgesluit.

Dippenaar laat sy eggenote, sy seun en dogter, asook een kleinkind agter. Sy lewe en nalatenskap word môre, 9 Oktober, om 11:00 in die NG kerk Worcester Brandwag gevier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.