Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Doofblinde man se pad na liefde nie aldag maklik nie

“Ek soek iemand wat eerlik is, wat opreg is. Iemand wat nie vir my sal jok nie en iemand wat altyd dáár sal wees vir my.”

Dít is waarna Hennie Randall (38) van Worcester streef.

Hennie is net soos elke ander mens in die dorp lief vir sport en oefening – veral rugby. Hy is lief vir vinnige motors en is ook mal oor sy werk.

Maar Hennie is ’n doofblinde man wat ander uitdagings as gewone mense in die lewe het.

“Ek is van geboorte af doof. Ek het my een oog beseer toe ek destyds in ’n motor vasgeloop het. Ek het eendag ook saam met ’n maatjie gespeel en per ongeluk die ander oog ook beseer, en dit het ook blind geraak.

“Albei retinas is beskadig en ek kon net tot op tienjarige ouderdom sien. Ek werk elke dag op ’n skootrekenaar wat aan ’n Braille-toestel gekoppel is – tegnologie is wonderlik,” vertel hy.

Hennie is in Bloemfontein gebore, maar is later na De La Bat Skool in Worcester vir onderrig. Daarna is hy na die Pionierskool en vandag werk hy by die Institute for the Blind in die rekenaarlokaal. Hoewel Hennie baie gelukkig is en al vrede gemaak het met sy toestand, wens hy dat sy soeke na die liefde makliker is.

“Ek is van 2018 af enkellopend. Om iemand te kry wat werklik lief vir jou is en wat vir jou omgee, is baie moeilik,” sê hy.

Hennie het hom onlangs tot sosiale media gewend en ’n inskrywing op verskeie plaaslike groepe geplaas.

In dié inskrywing praat hy oor die toestand waarmee hy al jare saamleef. Hy praat oor eerlikheid, opregtheid en vriendelikheid en lê klem op die woord “liefde”.

“Ja, ek soek iemand wat ook sal lief wees vir my. Ek sukkel al jare om die regte vrou te kry. As ek my op Facebook-groepe basies ‘adverteer’ en sê ek is doofblind en op soek na liefde, is dit nie maklik om die regte vrou te kry nie. Daar is niks fout met my nie. Ek het ’n vrou nodig om saam met my te wil lewe,” vertel hy aan Standard.

Hennie vertel dat daar ’n wanpersepsie is om doofblind te wees – asof mense dink hy of ander met dié of soortgelyke toestande is dom.

“Niegestremde mense dink dikwels ons is dom; ander weet nie regtig wat dit beteken om blind én doof te wees nie.

“Hulle verstaan ons nie altyd nie en weet nie hoe om met ons te kommu­ni-keer nie – dit maak soms seer.”

Hennie sê hy soek nie iemand om vir hom te sorg nie – hy soek iemand wat saam met hom kan lewe.

“Ek soek iemand wat wel my oë en ore kan wees; iemand wat tyd saam met my wil deurbring en my aanvaar vir wie ek is. Ek soek iemand wat lief is vir die Here en dieselfde waardes deel – ek soek daardie iemand spesiaal, nes ander ook liefde en aanvaarding soek. Ek is ook net ’n gewone mens,” sê hy.

Hy vertel hy was self skottelgoed en wasgoed en maak die huis skoon.

Hy is op soek ’n gelyke, nie iemand wat voel hulle moet vir hom werk nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.